Stokes mis dalk As-reeks oor vingeroperasie

Engeland se Ben Stokes kan die reeks misloop nadat hy ‘n operasie aan sy vinger moes ondergaan. (Foto: Daniel Leal-Olivas/AFP)

Die veelsydige Ben Stokes kan moontlik die reeks om die As in Australië misloop nadat hy ʼn operasie aan sy wysvinger ondergaan het.

Die 30-jarige speel sedert Julie nie en dit is aangekondig dat hy ʼn blaaskans neem om te fokus op sy geestesgesondheid en om sy wysvinger te laat rus.

“Stokes het Maandag ʼn tweede operasie ondergaan weens probleme met sy vinger, wat hy in April tydens die Indiese Premierliga (IPL) beseer het,” het die Engelse en Walliese Krieketraad (ECB) Donderdag aangekondig.

“Stokes het twee skroewe en beskadigde weefsel laat verwyder van sy wysvinger aan sy linkerhand. Hy sal vir die volgende vier weke intensiewe rehabilitasie onder die toesig van die ECB se mediese span ondergaan.”

Die operasie bring sy deelname in Engeland se toetsreeks in Australië, wat geskeduleer is om op 8 Desember in Brisbane te begin, in gedrang.

Bekommernis oor die spelers se welstand en Australië se streng koronavirusbeperkings het gelei tot vrese dat die toernooi nie sal plaasvind nie.

Die ECB vergader vandeesweek om te besluit of die reeks om die As kan voortgaan, met berigte wat dui op positiewe besprekings met Krieket Australië.

Stokes het sy reputasie as Engeland se talisman tydens die reeks om die As in 2019 gestand gedoen, toe sy onoorwonne 135 lopies Engeland gehelp het om ʼn rekordvierdebeurtteiken van 359 by Headingley met een paaltjie staande te jaag.

Stokes het Engeland se laaste toer na Australië in 2017-’18 misgeloop ná sy beweerde betrokkenheid by ʼn bakleiery buite ʼn nagklub in Bristol. Hy is daarna onskuldig bevind op ’n aanklag dat hy daarby betrokke was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.