Stokes sê nee vir T20-Wêreldbeker

Ben Stokes werk hard aan sy boulfikshed. (Foto: Oli Scarff/AFP)

Engeland sal sy T20-titel sonder die dienste van Ben Stokes moet verdedig. Die 32-jarige ster het dié land se krieketbase ingelig dat hy nie vir die komende mik-en-moker-skouspel in die VSA en die Wes-Indiese Eilande beskikbaar is nie.

Volgens Stokes werk hy deesdae hard aan sy boulfiksheid sodat hy weer sy plig as veelsydige speler na die beste van sy vermoë kan nakom.

Hy het geruime tyd met ʼn kniebesering gesukkel en was ook onlangs op die operasietafel. Nodeloos om te sê kon hy net ʼn paar boulbeurte in Engeland se toetsreeksnederlaag teen Indië afstuur.

“Om die Indiese Premierliga en die Wêreldbeker mis te loop is opofferings wat my hopelik in staat sal stel om die veelsydige speler te wees wat ek graag vir die afsienbare toekoms wil wees,” het Stokes gesê.

Sy afwesigheid is ʼn terugslag vir Engeland en die bleekbene sal veral sy aggressiewe spel en leiding op die veld mis. Hy het juis die wenlopies in hul suksesvolle T20-Wêreldbekerveldtog van 2022 geslaan.

Dié Christchurch-boorling is in 2023 vir die derde keer in vier jaar as Wisden Almanack se voorste krieketspeler op die internasionale verhoog aangewys.

Engeland se onverskrokke benadering onder Stokes se kapteinskap was egter in die spervuur in die toetse teen Indië nadat die Engelsmanne sleg tweede teen die tuisspan se draaiers en kolwers gekom het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

tweeling ·

Darem interessant hoe hy kan manupileer sois hy wil. Laasjaar ookgemaak soos hy wil met 50 boulbeurt krieket.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.