Stokes sê ook basta met dié Bafta

Ben Stokes. Foto: (Mike Egerton/PA via AP)

Die jaarlikse Bafta-toekennings is die Britte se weergawe van die Oscars waar die beste rolprente, televisieproduksies en akteurs aangewys word. Vanjaar se Bafta vir die beste sportproduksie op die kassie het aan die eindstryd van die Wêreldbeker-rugbytoernooi tussen Engeland en die Springbokke gegaan.

Siya Kolisi se span het die Rose oorrompel om die eindstryd met 32 – 12 te wen. Maar hoewel Rassie Erasmus en Kie. trots was op hul vertoning om vir die derde keer die Webb Ellis-trofee omhoog te hou, is die Britte maar warm onder die kraag omdat ander sportaksie oor die hoof gesien is vir ’n Bafta.

Engeland se krieketspan het byvoorbeeld op skouspelagtige wyse die eindstryd van die Wêreldbeker-kriekettoernooi op Lord’s teen Nieu-Seeland gewen, terwyl Wimbledon altyd ’n puik produksie is.

Krieketondersteuners is veral teleurgesteld omdat die Sky Sports-span wat verantwoordelik vir die krieketuitsending was nie met die prys weggestap het nie.

Engeland het verlede jaar op ’n dramatiese wyse die superbeurt teen die Kiwi’s gewen, nadat albei spanne vroeër 241 lopies in hul toegelate 50 boulbeurte aangeteken het.

“Dit beteken eintlik dat die Springbokke-Engeland-tweestryd beter was as die beste eendagkrieketwedstryd nóg? Jammer, ek stem glad nie saam nie,” het Daniel Stevanato op Twitter gesê.

Selfs Ben Stokes, die wêreld se voorste veelsydige krieketspeler, het sy misnoeë te kenne gegee.

Stokes, wat as die speler van die wedstryd in die eindstryd aangewys was, het bloot ’n foto van Engeland se geskiedkundige oorwinning op sy Twitter-rekening geplaas, gevolg deur ’n GIF-prentjie van iemand wat beslis ontevrede met iets is.

Volgens Bafta-organiseerders word daar egter eerder na die gehalte van die produksie, as na die uitslag van die betrokke wedstryd gekyk.

Die 29-jarige Stokes word deur spanmaats soos Joe Root en James Anderson as een van die beste veelsydige spelers nóg bestempel.

“Hy is ongetwyfeld die beste veelsydige speler saam met wie ek al gespeel het, terwyl hy hard op pad is om Engeland se beste nóg te word,” het Anderson van Stokes gesê.

Hoewel hy nog ver daarvan is om Jacques Kallis se lopies- en paaltjiesrekord te verbeter, glo talle Britse ondersteuners dat Stokes eendag die Suid-Afrikaner en sir Ian Botham sal oortref.

  • Kallis se toetsrekord (166 toetse): 13 289 teen ’n gemiddeld van 55, 37 en 292 paaltjies teen ’n gemiddeld van 32,65.
  • Stokes se toetsrekord (66 toetse): 4 419 lopies teen ’n gemiddeld van 38,42 en 156 paaltjies teen ’n gemiddeld van 31,73.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

tweeling ·

Die Poms het nie die krieket gewen nie, vra maar die een skeidsregter. Kallis het sy vertonings gelewer teen baie tawwer kompetisie as wat daar vandag is, so Stokes word gevlei.

Kiepie ·

Robert, brei asseblief bietjie uit op jou stellin dat “die Poms nie die krieket gewen” het nie.

Jack Russ1 ·

In ‘n mate stem ek saam met jou, hulle het hom nie gewen nie, NZ het hom verloor en op ‘n skinkbord aan Eng gegee

Jack Russ1 ·

Ek het baie respek vir Stokes. Hy het baie gegroei in die laaste paar jaar, uitstekende speler. Enige span sal hom in hulle span wil he.

Maar hy is ‘n krieket speler, so die rugby maak nie vir hom soveel saak nie. Hy voel soos enige springbok sou gevoel het indien die toekenning na die krieket wereldbeker eindstryd toe gegaan het

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.