Stubbs slaan sewe sesse

Tristan Stubbs het 71 blitsige lopies vir die Dehli Capitals geslaan. (Foto: Indranil Mukherjee/AFP)

In die einste wedstryd waarin Romario Shepherd 32 lopies van Anrich Nortjé se finale boulbeurt gemoker het, het Tristan Stubbs en Gerald Coetzee darem toegesien dat die Suid-Afrikaanse vlag in die Indiese Premierliga wapper.

Die 23-jarige Stubbs het sy behendigheid met die wilgerlat onderstreep toe hy 71 onoorwonne lopies van slegs 25 aflewerings vir die Delhi Capitals aangeteken het.

ʼn Baie goeie prestasie – veral wanneer ʼn mens in ag neem dat die Capitals uiteindelik met 29 lopies teen die Mumbai Indians verloor het.

Die Suid-Afrikaanse kolwer het sewe groot sesse geslaan en hy het sy lopies teen ʼn uitstekende treftempo van 284 gemoker.

Sy frustrasievlakke het sekerlik die hoogte ingeskiet toe hy bitter min aflewerings in die laaste twee boulbeurte trotseer het.

Met Stubbs voor die paaltjies was enigiets seker moontlik – selfs om 43 lopies van tien aflewerings vir ʼn oorwinning te slaan.

Dan het Coetzee met sy vier paaltjies in die kleure van die Indians uitgeblink.

Hy het veral onder die kolwers laer in die orde baljaar en sy gereelde paaltjies het Stubbs se momentumtrein ontspoor.

  • Opsomming van die telkaart:

Mumbai Indians 234/5 in 20 boulbeurte: Rohit Sharma 49, Tim David 45* en Axar Patel 2/35.

Delhi Capitals 205/8 in 20 boulbeurte: Tristan Stubbs 71*, Prithvi Shaw 66 en Gerald Coetzee 4/34.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

George ·

Sit hulle oor n maand en half in n Protea hemp dan avg ons weer 13.

Conrad Fouche ·

Die Stubbs speel nou goeie krieket, kolf en veldwerk van hoogste gehalte…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.