Suid-Afrika het nóg ’n Engelse toetsspeler

Jason Roy. Foto: Facebook.

Jason Roy is ’n verwoestende kolwer wat gereeld die grondslag vir Engeland se reusetellings in eendagkrieket lê.

Nou het die 29-jarige openingskolwer vandeesweek sy toetsbuiging teen Ierland op Lord’s gemaak.

Hy is egter saam met spelers soos Kevin Pietersen, Tim Curran, Keaton Jennings, Jonathan Trott, Allan Lamb, Andrew Strauss, Basil d’Oliveira en Robin Smith een van die rits Suid-Afrikaners wat Engeland in toetskrieket verteenwoordig het.

Roy is in Durban gebore, maar het as tienjarige na Engeland verhuis. Hoewel hy gister net vyf lopies in Engeland se powere eerstebeurt probeerslag van 85 aangeteken het, was hy vuurwarm in die afgelope Wêreldbeker-kriekettoernooi waar hy 443 lopies teen ’n treftempo van 115 geslaan het.

Intussen kan Kolpak-kontrakte binnekort iets van die verlede wees indien die Verenigde Koninkryk hom aan die Europese Unie onttrek.

SA Cricket Magazine berig dat die Engelse Krieketraad sy 18 graafskappe in kennis gestel het dat Kolpak-spelers nie ná 2020 vir sy spanne kan speel nie, indien daar met Brexit voortgegaan word.

Duane Olivier het vroeër vanjaar ’n Kolpak-kontrak onderteken, terwyl ander Suid-Afrikaners soos Kyle Abbott, Rilee Rossouw, Wayne Parnell, Morné Morkel, Simon Harmer en David Wiese ook almal in Engeland krieket speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.