Suid-Afrika staan stewig na die tweede dag teen Sri Lanka

Suid-Afrika teen Sri-Lanka (27 Desember 2016) Foto: Cricket South Africa, Facebook

Suid-Afrika teen Sri-Lanka (27 Desember 2016) Foto: Cricket South Africa, Facebook

Suid-Afrika se boulers het Dinsdag na die middelmatige vertoning van hulle kolwers op St Georgespark ʼn stewige houvas op die eerste toets teen Sri Lanka verkry.

Na die tweede dag se spel, wat weens swak lig beëindig is met nog 22 beurte wat geboul moes word, is Suid-Afrika 105 lopies voor met drie eerstebeurt-paaltjies van Sri Lanka nog staande.

Suid-Afrika is Dinsdagoggend vir 286 uitgehaal en Sri Lanka sal Woensdag op 181/7 voortkolf.

Daar het Dinsdag 11 paaltjies geval op ʼn kolfblad wat heelwat gras op het, maar op die eerste dag min streke uitgehaal het. Die blad was Dinsdag lewendiger met die vaart en harder manier waarop die Proteas se snelboulers die blad getref het.

Die ‘pokmerke’ wat die bal Maandag op die welige dog droë gras op ʼn goeie lengte gelaat het, is met reëlmaat deur veral Kyle Abbott en Vernon Philander getref. Daar was dus ʼn hele paar balle wat nie volgens verwagting deurgetrek het paaltjiewagter toe nie.

Suid-Afrika se snelboulers, veral Abbott en Philander, het met net soveel dissipline as die Sri Lankane geboul, maar het heelwat meer swaai en beweging van die blad af gekry. Kagiso Rabada was egter nie op sy beste nie en redelik wisselvallig. ʼn Mens het die inruk gekry dat hy eerder op vaart en kort balle staatgemaak het en hy is redelik deur die kolwers gestraf.

Toe Sri Lanka, na twee paaltjies van Abbott en een van Philander op 22/3 steier, het sewe paaltjies reeds in die eerste 16.5 beurte van die tweede dag vir net 41 lopies geval.

♦  Die Proteas het net 19 lopies by hulle oornagtelling van 267/6 gevoeg en was op 286 almal uit. Quinton de Kock was die laaste kolwer uit, skoongeboul deur Nuwan Pradeep vir 37 lopies nadat Keshav Maharaj en Kyle Abbott albei na drie balle vir nul uitgehaal is.

Maharaj was Suranga Lakmal se vyfde slagoffer. Dit is die eerste keer dat Lakmal vyf paaltjies in ʼn beurt neem en hy het dit terdeë verdien met sy feitlik foutlose lengte en algemene bouldissipline.

De Kock en Vernon Philander moes Dinsdag die Proteas se karige 267/6 na hopelik 400 help voer het. Philander was egter in die vyfde boulbeurt van die dag uit, gevang van ʼn haakhou af wat van die bo-rand af gekom het. Maharaj het net sy drie balle gehou en toe het De Kock met ʼn onbesonne lopie vir Abbott uitgehardloop.

♦  Ondanks die verwoesting van die Sri Lankaanse toporde, moet hulle kolwers ook skuld kry dat hulle tot hul eie ondergang bygedra het met balle wat te ver van die lyf gespeel is.

Dinesh Chandimal (28) en die kaptein Angelo Mathews (39) het die sukkelende besoekers se beurt effens gekonsolideer voordat Dhananjaya de Silva (43 nun) en Rangana Herath (24) ook vasgebyt en die telling van 121/6 na 157/7 gevoer het.

Opgesomde telkaart –

Suid-Afrika (eerste beurt): 286 (Kolwers: Stephen Cook 59, Dean Elgar 45, Hashim Amla 20, JP Duminy 63, Faf du Plessis 37, Temba Bavuma 5, Quinton de Kock 37, Vernon Philander 13. Boulers: Suranga Lakmal 5/63, Rangana Herath 2/48, Nuwan Pradeep 2/66)

Sri Lanka (eerste beurt): 181/7  (Kolwers: Angelo Mathews (39), Dinesh Chandimal (28), Dhananjaya de Silva 43*, Rangana Herath (24). Boulers: Vernon Philander 3/35, Kyle Abbott 2/49, Kagiso Rabada 1/63, Keshav Maharaj 1/30)

Na die tweede dag se spel is Suid-Afrika 105 lopies voor met drie van Sri Lanka se eerstebeurt-paaltjies nog staande.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Waghond ·

Myns insiens staan SA nie so stewig nie. Die twee kolwers van Sri Lanka het vasgeskop en ons boulers sal vanoggend gou vd oorblywende 3 paaltjies ontslae moet raak as ons nog die toets wil wen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.