Suid-Afrikaanse krieket is in ’n oorgangsfase

Ashwell Prince. Foto: ANA.

Die voormalige Suid-Afrikaanse kolwer, Ashwell Prince, glo die Proteas is tans in ’n oorgangsfase en hulle sal tyd nodig hê om geskikte plaasvervangers vir Hashim Amla en Dale Steyn te kry.

Prince, wat 66 toetse vir Suid-Afrika tussen 2002 en 2011 gespeel en 3 665 lopies aangeteken het, is nou aan die stuur van Krieket Suid-Afrika se draaiboulerkamp in Bengaluru ter voorbereiding vir die komende Protea-toer na Indië.

Suid-Afrika sal drie toetse teen Indië in Oktobermaand speel – hul eerste reeks sonder die dienste van Amla en Steyn.

Dié twee het vroeër drie dae ná mekaar hul uittredes aangekondig – Amla uit internasionale krieket, terwyl Steyn uit toetskrieket getree het.

“Dit is beslis ’n oorgangsfase vir Suid-Afrikaanse krieket, het Prince aan die Deccan Chronicle gesê.

“Ek is by plaaslike krieket betrokke en weet watter talentvolle jong spelers hul stemme dik maak. Maar jy word nie sommer oornag ’n Steyn of ’n Amla nie.”

Prince is ook aan die stuur van sake van Suid-Afrika se A-span wat sy Indiese eweknie in vyf eendagwedstryde en twee vierdagkragmetings in Asië aanvat.

“Ons het hierheen gekom sodat jong spelers gewoond kan raak aan die Indiese toestande. Terwyl ons probeer om dit wat ons as spelers destyds geleer het aan hulle oor te dra, maak ons ook van plaaslike afrigters gebruik. Selfs die draaibal-afrigter het jare lange ervaring agter die blad – dit is basies om die jong ouens soveel moontlik inligting te voer.”

Suid-Afrika se voorbereidingskamp word deur nasionale kolwers soos Temba Bavuma en Aiden Markram bygewoon, terwyl Dane Piedt onder die boulers tel.

  • Die Proteas speel op 15 September hul eerste T20-wedstryd teen Indië in Dharamsala.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

koos ·

En al vir die afgelope 10 jaar. Ek wens die NMS wil die woorde laat verban. Dis seker die “beste” verskoning vir swak prestasie, en die span het nog nie eers gespeel nie!

JJ ·

Voorbrand vir n toer wat ons gaan verloor. Ou kaptein mompel moutjies speel ook in ENG, so ons spelers gaan nog “moeg” wees ook.

Quinny ·

Die Proteas gaan die 20/20 wen en dit sien as n suksesvolle toer, net soos hul gedink het ons World Cup was nie nét sleg nie haha

Budgie ·

Ja … van boonsterang na derderangs – kry vir julle. Die vrugte word nou gepluk. Tragies

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.