Sukkelende Warner sal kolfwerk teen Proteas open

David Warner sukkel deesdae met die kolf. Foto: Shaun Botterill/AFP.

Aaron Finch, Australië se T20-kaptein, het bevestig dat David Warner saam met hom die kolfwerk in die komende mik-en-moker-toernooi in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) sal open.

Die Proteas speel juis hul eerste wedstryd teen die Aussies op 23 Oktober.

Die 34-jarige Warner sukkel egter tans met die kolf en die gewese kaptein van die Sunrisers Hyderabad volg deesdae die span se vordering in die Indiese Premierliga vanuit sy pawiljoensitplek.

Daarbenewens het die blitsige Anrich Nortjé ook die lewe vir hom in die VAE moeilik gemaak.

Die Protea-snelbouler, wat vir die Delhi Capitals speel, het in ’n wedstryd teen die Sunrisers die spoednaald gereeld in die rooi gedruk en hy het binne ’n japtrap vir die ses vinnigste aflewerings van die toernooi gesorg.

Warner kon nie veel weerstand teen die Suid-Afrikaner se aggressie bied nie en hy is vroeg terug na die kleedkamer gestuur.

Tog glo Finch dat sy aanvangsmaat beter in die T20-Wêreldbeker sal vaar.

“Hy is een van die beste kolwers wat nog ooit vir Australië gespeel het en al het hy min wedstryde die afgelope ruk gespeel, weet ek dat hy slaggereed is om die wêreld se voorste boulers te trotseer,” het Finch gesê.

Warner het in 2015, 2017 en 2019 die meeste lopies in die onderskeie IPL-reekse geslaan en Kevin Pietersen het gesê dit is hartseer om die sterkolwer nou op die kantlyn te sien.

Die vurige speler het 356 lopies teen ’n gemiddeld van 35,60 en ’n treftempo van 146,50 in sy T20-wedstryde teen Suid-Afrika geslaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.