Suné sal Proteas teen Windies lei

Die ervare Suné Luus sal die Proteas teen die Wes-Indiese Eilande aanvoer. Foto: Saeed Khan/AFP.

Met ’n enkelbesering en ’n positiewe Covid-19-toets wat onderskeidelik vir Dané van Niekerk en Lizelle Lee van die veld hou, sal Suné Luus die Protea-vroue in hul komende reeks teen die Wes-Indiese Eilande aanvoer.

Die Suid-Afrikaners speel Vrydag hul eerste eendagwedstryd teen die besoekers op die Wanderers in Johannesburg.

“Suné het al vantevore gewys dat sy die kapteinskapleisels goed in die ander se afwesigheid kan vasvat en ons is opgewonde om die rol weer aan haar toe te vertrou. Ek is ook seker dat sy deur die senior spelers ondersteun word,” het Clinton du Preez (keurder-sameroeper) gesê.

Die 26-jarige veelsydige speler het die Proteas reeds in 88 eendagwedstryde verteenwoordig waarin sy 1 261 lopies geslaan het en 106 paaltjies geneem het.

Du Preez meen ook dat die tuisveldvoordeel wat die Wanderers bied, in die Proteas se guns sal tel.

“Die Windies is daaraan gewoond om op stadige en draaiersvriendelike blaaie te speel en die Wanderers-baanblad bied ’n wonderlike geleentheid vir ons boulers om paaltjies te neem.”

In Van Niekerk en Lee se afwesigheid kan die tuisspan steeds op Mignon du Preez, Laura Wolvaardt en Marizanne Kapp reken.

Die Proteas het die vorige eendagreeks tussen die twee lande met 4-1 gewen. Volgens die jongste Internasionale Krieketraadranglys is Suid-Afrika die naasbeste witbalkrieketspan (oor 50 boulbeurte) ter wêreld, terwyl die Windies in die sewende plek is.

Die wedstryde sal regstreeks op SuperSport en SABC uitgesaai word.

Bepalings:

Eerste eendagwedstryd: 28 Januarie om 14:00

Tweede eendagwedstryd: 31 Januarie om 10:00

Derde eendagwedstryd: 3 Februarie om 14:00

Vierde eendagwedstryd: 6 Februarie om 10:00

Protea-groep: Suné Luus (kaptein), Chloe Tryon (onderkaptein), Andrie Steyn, Anneke Bosch, Ayabonga Khaka, Lara Goodall, Laura Wolvaardt, Marizanne Kapp, Masabata Klaas, Mignon du Preez, Nadine de Klerk, Nonkululeko Mlaba, Raisibe Ntozakhe, Shabnim Ismail, Sinalo Jafta, Tazmin Brits, Trisha Chetty en Tumi Sekhukhune.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.