Sutherland, Aussies mors met Proteas

Australië se vrouekrieketspan het die eenmalige toets teen Suid-Afrika op ’n drafstap gewen. (Foto: X/cricket.com.au)

Die Protea-vrouekrieketspan sal meer toetse moet speel as daar van sterker vertonings op die internasionale rooibalkrieketverhoog gedroom word.

Australië het die Suid-Afrikaners vandag met ʼn beurt en 284 lopies in die eenmalige toets in Perth geklop.

Annabel Sutherland was die tuisspan se groot heldin met haar dubbele honderdtal en vyf paaltjies in die wedstryd. Sy het die eerste vrou geword om dié prestasie te vermag.

Die Suid-Afrikaners het wel goed in die witbalreekse vertoon en hulle het goeie seges in die T20- en eendagkrieketreekse behaal.

Maar daar wag nog harde werk op die toetsspan.

“Australië verdien lof vir die wyse waarop hulle gespeel het – hulle was beter as ons in elke faset van die spel. Tog was dit ʼn waardevolle ervaring en ons het die geleentheid geniet om vir ʼn slag toetskrieket te speel,” het Laura Wolvaardt, Protea-kaptein, gesê.

Volgens die 24-jarige kolwer was dit ook spesiaal om op die ikoniese WACA-krieketveld in die Wes-Australiese stad te kolf en boul.

“Ek hoop dat ons in toekoms meer oor toetskrieket sal leer en speel. Persoonlik sal ek baie daarvan hou om meer van dié wedstryde speel.”

Volgens die Aussies verdien die Suid-Afrikaners ʼn klop op die skouer vir hul vertoning in die witbalkrieketreekse.

“Dit was met tye taai krieket en Suid-Afrika het ons werklik getoets. Ek is egter trots op ons veerkragtigheid en die manier waarop ons telkemale terugbaklei het. Hierdie vertoning op die WACA is ongetwyfeld die kersie op die koek,” het Alyssa Healy, Australië-kaptein, gesê.

  • Opsomming van die telkaart:

Suid-Afrika 76/10 in 31,2 boulbeurte: Suné Luus 26, Darcie Brown 5/21 en Annabel Sutherland 3/19.

Australië 576/9 in 125,2 boulbeurte: Annabel Sutherland 210, Alyssa Healy 99 en Chloe Tryon 3/81.

Suid-Afrika 215/10 in 97,2 boulbeurte: Chloe Tryon 64, Delmi Tucker 64 en Annabel Sutherland 2/11.

Uitslag: Australië wen met ʼn beurt en 284 lopies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.