T20-Wêreldbeker: Aussies verwoes Kiwi’s

Ashleigh Gardner (Foto: Ashleigh Gardner/Instagram)

Australië se vroue-krieketspan het sy heerskappy verder beklemtoon toe hy Saterdagaand in die Paarl ’n kliniese vertoning in die T20-Wêreldbekertoernooi teen Nieu-Seeland gelewer het.

Die Aussies, wat reeds vyf van die vorige sewe T20-Wêreldbekertoernooie gewen het, het 173/9 in sy toegelate 20 boulbeurte aangeteken het en die Kiwi’s vir slegs 76 uitgehaal om met 97 lopies te seëvier.

Die oorwinning het die deur vir Suid-Afrika oopgeskop om tot die uitkloprondes in Groep A te kwalifiseer, mits Suné Luus-hulle Maandag met Nieu-Seeland kan klaarspeel.

Suid-Afrika, wat in sy eerste wedstryd deur Sri Lanka geskok is, sal minstens twee van sy oorblywende wedstryde ten Nieu-Seeland, Bangladesj en Australië moet wen om verder te vorder.

Die Aussies maak nie net staat op een of twee spelers om die slag te slaan nie.

Aan kolwerskant het Alyssa Healy met 55 (38 balle, 9×4) en Meg Lanning met 41 (33 b, 7×4) die grondslag gelê wat Ellyse Perry met 40 (22 b, 3×4, 2×6) kon afrond.

Nieu-Seeland se gorrel is uitgeruk toe Megan Schutt twee paaltjies in die eerste boulbeurt platgetrek het.

Ashleigh Gardner (5/12) het hierop voortgebou en Nieu-Seeland tot net 76 lopies beperk.

Dit was Gardner se beste vertoning nog met die bal.

Die 29-jarige Bernadine Bezuidenhout, wat in Kimberley gebore is en Suid-Afrika tussen 2014 en 2015 verteenwoordig het, het darem 14 lopies vir die Kiwi’s bygedra en Amelia Kerr 21.

Maar dit was slegs ʼn paar druppels in die emmer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.