Tahir, Amla die helde in Proteas se groot sege

Imran Tahir, speler van die wedstryd met sy 4/27. (Foto: twitter cricketsa)

Die Proteas het Saterdag op die Oval in Londen hulle eerste wedstryd in groep B van die reeks om die Kampioene-trofee teen Sri Lanka uiteindelik maklik met 96  lopies gewen nadat hulle aanvanklik met kolf én bal gesukkel het.

Die twee groot helde in die Suid-Afrikaanse sege was Hashim Amla wat sy 25ste honderdtal aangeteken het en Imran Tahir wat die Sri Lankane se kolforde met sy 4/27 geknak het toe hulle goed op koers was .

Suid-Afrika het 299/6 in hulle toegelate 50 boulbeurte aangeteken nadat hulle letterlik nooit ʼn lopietempo van ses lopies gehad het nie. Trouens, dit was eers halfpad deur hulle kolfbeurt dat hulle by die vyflopie-merk uitgekom het.

Amla en Quinton de Kock het teen die bestendige boulwerk van die Sri Lankane gesukkel. Hulle het op die kolfblad wat veel stadiger was as wat aanvanklik verwag is, net 44 lopies in die 13de boulbeurt gehad toe De Kock vir 23 van 42 balle uitgevang is.

Faf du Plessis het sake darem versnel. Toe hy uit is (nadat hy vir agt op die grens laat val is) was die telling 189/2 na 3,4 beurte. Sy 75 het 96 minute geduur en is in 70 balle aangeteken en hy en Amla het hulle vennootskap van 145 teen 6,7 aangeteken – maar steeds was die algehele lopietempo slegs 5,6.

AB de Villiers is in die volgende boulbeurt vir vier uitgehaal. David Miller het 18 in 22 balle geslaan en agt balle later is Amla vir ʼn uitstekende 103 uitgehardloop wat in 115 balle aangeteken is (232/5, met die lopietempo toe slegs 5,2 nadat Amla effens in sy dop gekruip het in sy 90’s).

JP Duminy het na sy aantal sukkelbeurte 38 in 20 balle geslaan en saam met Chris Morris (20 in 18 balle) gehelp dat die beurttelling met ʼn ses van die laaste bal af op 299/6 staan.

Die Sri Lankaanse aanvangskolwers het met ʼn vaart weggespring en teen byna nege lopies per beurt gekolf. Kagiso Rabada was weer sonder ritme en Wayne Parnell was aanvanklik die kluts kwyt.

Morné Morkel het hulle effens gerem met sy paaltjie in sy eerste boulbeurt, maar op 94/1 teen ʼn lopietempo van 8,3 was Sri Lanka gerieflik in die saal.

Maar toe kom AB de Villiers met ʼn wonderlike vangskoot op wye halfweg van Morris se boulwerk vorendag. Hy het met die een hand soos ʼn wafferse (maar korterige!) slot gerank en Kusal Mendis laat terugstap.

En net 22 lopies later het De Villiers soos blits op ʼn bal toegesak en dit met die optel en in die duikslag die paaltjies getref en Dinesh Chandimal was daarmee heen op 116/3.

Dit was tydens Tahir se eerste boulbeurt, en drie balle later is Chamara Kapugedera beenvoor uitgegee (117/4).

Sri Lanka se lopietempo het toe al aansienlik afgeneem, maar dit was die paaltjie van hulle kaptein, Upul Tharanga, in Tahir se vyfde boulbeurt, wat die groot slag was.

Hy was die man wat met sy aanvangsmaat Niroshan Dickwella die Proteas ietwat benoud laat skarrel het en in daardie stadium saam met Asela Gunaratne hul span oor die lyn moes dra.

Miller het so halfpad grens toe op wye halfby al rollende die luglangse hou van Tharanga raakgevat en op 147/5 was die slag gelewer.

Tahir was egter nie klaar nie. Hy het vir Gunaratne laat uitvang, en toe hy later vir sy laaste twee beurte teruggebring is en ook vir Nuwan Pradeep uitgehaal het, het hy met syfers van 4/27 in 8,3 beurte van die veld gestap – plus ʼn pragtige direkte ingooi wat Lakmal uitgehardloop het.

Hy is as speler van die wedstryd aangewys.

Goeie boulwerk deur veral Chris Morris (2/32) en Morné Morkel (1/31) het bygedra dat die belowende kolfbeurt van Sri Lanka na net 41.3 beurte verby was.

Die Proteas se volgende wedstryd is op 7 Junie teen Pakistan op Edgbaston.

Klik op die skakel om die volledige telkaart te kry: http://www.espncricinfo.com/icc-champions-trophy-2017/engine/match/1022351.html

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Veritas ·

Die Proteas gaan maar lank wag vir hul volgende wedstryd op 7 Julie. Kan gerus maar die maand by die huis kom rus.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.