Tahir verdien beter as dít

Imran Tahir het in die eerste boulbeurt van die Proteas se WB-veldtog van Jonny Bairstow ontslae geraak. Foto: Facebook.

Volgens oorlewering het Imran Tahir destyds tydens ’n klubkrieketwedstryd in Engeland só aan’t hol gegaan tydens sy gebruiklike paaltjiefeesviering dat hy skoon oor die grens gehardloop en bietjie in die Britse strate verdwaal het.

Sy spanmaats het ’n soektog van stapel gestuur en ’n ietwat verdwaasde Tahir is terug na die kolfblad begelei.

Meer as 25 spanne, 105 eendagwedstryde vir die Proteas en 249 T20-kragmetings (oor die hele wêreld) later, en die 40-jarige Tahir se passie en amperse kinderjolyt wanneer hy ’n paaltjie neem, is so te sê onveranderd.

Die bybreekbouler is een van die voorste kitsboulers van die hedendaagse era en die Proteas kan hul sterre dank dat dié Pakistanse boorling destyds sy Suid-Afrikaanse vrou gedurende die o. 19-Wêreldbekertoernooi ontmoet het.

Die oudste speler by vanjaar se Wêreldbekertoernooi is nie net die Proteas se voorste paaltjievraat nie, maar ook die enigste speler in Suid-Afrikaanse kleure (buiten Rassie van der Dussen en Chris Morris) wat darem lus lyk om vir sy land te speel.

Sy 10 paaltjies word teen ’n gemiddeld van 27.90 geneem en hy staan slegs 4.89 lopies per boulbeurt af. Net Morris (nege paaltjies teen 25.77) kom naby hom, terwyl Kagiso Rabada sonder enige oemf by vanjaar se toernooi is.

Die 24-jarige sneltrein kon nog net ses paaltjies in die toernooi neem teen ’n gemiddeld van amper 51 lopies per paaltjie. Glad nie goed genoeg vir Suid-Afrika se hoofaanvalswapen nie.

Tahir het vroeër die week op Lord’s eers van Fakhar Zaman ontslae geraak en toe ’n briljante vangskoot van sy eie boulwerk benut om vir Imam-ul-Haq terug na die kleedkamer te stuur.

Sy 2/41 (die beste van al die SA boulers) kon egter nie verhoed dat Pakistan 308 lopies in hul toegelate 50 boulbeurte aanteken nie.

As die Proteas net die geesdrif en trots van vyf Imran Tahirs gehad het, sou hulle waarskynlik ernstige aanspraakmakers gewees het om met die silwerware huiswaarts te keer.

Maar nou, ná die naweek se finale groepwedstryd teen Australië, is hulle op pad terug na Suid-Afrika. Waar hulle waarskynlik allesbehalwe ’n heldeontvangs by die OR Tambo-lughawe sal kry.

En Imran Tahir verdien dít nie.

  • Tahir tree ná die Wêreldbeker uit internasionale krieket.
  • Sy 39 paaltjies is die meeste vir Suid-Afrika by Wêreldbekertoernooie.
  • Hy het sy debuut vir Suid-Afrika gedurende die 2011-Wêreldbeker gemaak. Hy was toe die Proteas se naasvoorste bouler.
  • Hy is die vinnigste SA bouler om 100 paaltjies in eendagkrieket te neem. Hy het dié prestasie in 58 wedstryde vermag.
  • Hy is die eerste Protea-bouler om sewe paaltjies in ’n eendagbeurt te laat kantel, toe hy 7/45 teen Wes-Indië geneem het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Pieter ·

Ek stem ten volle saam die artikel. Die ou het sy alles gegee vir sy nuwe land.
Daar is n paar manne wat moet onverskoning vra. Coach, kaptein, keurders en almal wat met beserings op toer gegaan het. Hulle was die selfsugtigste

JohanL ·

Ek het sy passie geniet. Met elke paaltjie altyd gewonder hoe ver hy gaan hardloop :) :)

Anti Protea ·

Daar is baie ouens wat beter verdien as wat hulle gekry het. Hy het darem die geleenthede gekry wat baie ontneem is. Gelukkig is hy ook nou klaar.

Valerie ·

Vir ‘n “paaltjievraat” (‘n baie swak beskrywing), is hy strate agter die voorste boulers in die kompetisie. Maw . . . doodgewoon, normaal, niks spesiaal. Bye.

Koos Dup ·

Ai Valerie, jou kennis van krieket is duidelik beperk. Hy is die voorste draaibalbouler by die wêreld beker. Blaaie in Engeland is meestal geskik vir snelboulers, omrede, nie een van die voorste “paaltjievrate” draaibalboulers is nie. Vir draaibalbouler om so baie paaltjies te geneem het soos Tahir in Engeland, met puik ekonomie daarby, is wonderlike prestasie. So… Bye-Bye.

MANIE ·

Ek stem saam ,die man is definitief nie n paaltjievraat. Dink dit is hoekom die woord draaier bygebring word. Starc het byna dubbel die paaltjies van Tahir. 19 teenoor 10. Ek is nogal baie bly sy loopbaan is nou verby.

Jan-Hendrik ·

Manie, hoekom is jy bly sy loopbaan is verby? Sy rekords oor net hoé ‘n paaltjievraat hy was spreek boekdele. Ek kry diegene nie pluis wat so negatief is nie, maar kan wel tot die slotsom kom dat dit persone is wat net mooi NIKS van krieket weet nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.