Talentvolle Mignon een van wêreldkrieket se bestes

Mignon du Preez. Foto: Twitter.

In krieketkringe is dit alombekend dat Suid-Afrikaanse spelers lelik onder druk kan swig; as die drukkoker-naald net-net aan die rooi begin raak, kook die hele krieketpot terstond oor.

Tog is die talentvolle Mignon du Preez nie iemand wat haar veel aan stereotipering steur nie. Trouens, dit lyk eintlik asof sy van sulke druksituasies hou; iets wat vir die meeste krieketliefhebbers ’n volksvreemde konsep is wanneer hulle die woorde “druk” en “Protea” in dieselfde sin raaklees.

Die 30-jarige het destyds ’n vyftigtal in haar debuutwedstryd vir die nasionale vrouekrieketspan teen Pakistan geslaan, terwyl die Proteas onder haar leierskap hul eerste reeksseges in Indië en Bangladesj gesmaak het.

Hoewel sy in 2016 afstand van die kapteinskap gedoen het om op haar kolfwerk te konsentreer, het sy steeds haar stempel in helder ink by die afgelope T20-Wêreldbeker in Australië afgedruk. Haar ses in die laaste boulbeurt teen Engeland het die wedstryd vir die Proteas beklink; dit was slegs die derde keer dat die Suid-Afrikaners wel die Engelse in dié formaat van die spel kon troef.

Haar spanmaats vier hul oorwinning teen Engeland. Foto: Twitter.

“Ek beskou my kriekettalent as ’n gawe van Bo. In moeilike situasies onthou ek altyd dat my hulp van God kom en dat ek deur Hom tot alles in staat is. Dan dink ek ook dat die vermoë om druksituasies te hanteer mettertyd aangeleer kan word,” het sy aan Maroela Media gesê.

Hoewel sy amper elke sport op skool beoefen het – van gimnastiek en netbal tot hokkie en tafeltennis – was krieket altyd haar groot liefde gewees.

“Ek was baie bevoorreg om as een van die ‘manne’ by Laerskool Doringkloof gesien te word en ek het nooit enige probleme met my eie span gehad nie. Tog was daar maar altyd ’n seuntjie onder ons teenstanders wat my êrens ’n bietjie wou tart, maar dan het ek hom doodeenvoudig net stil gespeel.”

In ’n o.13-wedstryd het sy ’n ongelooflike 258 lopies in ’n wedstryd van 40 boulbeurte gemoker. Haar pragbeurt het 16 sesse ingesluit.

“Ek sou sê dat kolfwerk iets is wat ek net natuurlik regkry. As vierjarige by my eerste mini-krieketdag is ek as die beste kolwer aangewys. Natuurlik moes ek baie hard aan my tegniek en vaardighede skaaf, maar dit is iets wat ek nog altyd geniet het.”

Kolfwerk is haar gunsteling. Foto: Twitter.

’n Kaphou verby punt en ’n dryfhou deur die dekveld is haar twee gunstelinghoue.

Du Preez het in haar enigste toetswedstryd – vrouespelers speel maar meestal witbalkrieket – ’n honderdtal teen Indië weg van die huis geslaan.

“Dit word nie verniet toetskrieket genoem nie. As speler word alle fasette van jou spel in dié formaat getoets.

“As jong meisie was dit my droom om eendag Suid-Afrika op die krieketveld te verteenwoordig en die kapteinskap was ongetwyfeld die kersie op die koek gewees,” vertel sy.

Tog is daar steeds baie dinge wat sy in haar loopbaan wil bereik, onder meer om die Wêreldbeker te wen. Die Proteas is juis vanjaar net-net deur Australië in die halfeindstryd van die internasionale skouspel uitgeskakel.

“Daardie nederlaag was ’n besonder bitter pil om te sluk, veral omdat ons regtig geglo het dat ons vanjaar die beste kans gehad het om die trofee huis toe te bring.”

Die wêreldwye Covid-19-pandemie het gesorg dat die meeste krieketwedstryde afgelas is.

“Ek het besluit om die afsonderingstydperk as ’n seën te beskou. Ek was die afgelope paar jaar so baie weg van die huis, dit was lekker om gehaltetyd saam met my man (Tony) deur te bring.”

Natuurlik kan sy nie wag dat krieket weer hervat sal word nie – sy droom om eendag in die eerste vroue-IPL-reeks te speel en om Statebondspele toe te gaan.

Mignon du Preez is ’n krieketspeler wat gereeld op die groot sportverhoog skitter. Sy is nie net een van die bestes in Suid-Afrika nie, maar ook in die wêreld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.