Temba wil kolfwerk saam met Quinton open

Quinton de Kock en Temba Bavuma. Foto: Rodger Bosch/AFP.

Temba Bavuma, die Proteas se witbalkrieket-kaptein, het nog nie weer ’n wedstryd gespeel sedert hy sy duim in die eerste eendagwedstryd teen Sri Lanka beseer het nie.

Tog vorder sy herstelproses fluks en hy sal vandag sy eerste amptelike netsessie aanpak. Hy wil ook in Maandag se opwarmingswedstryd teen Afghanistan speel.

Volgens die 31-jarige speler sal hy graag die kolfwerk saam met Quinton de Kock in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) wil open, wat beteken dat Reeza Hendricks en Aiden Markram waarskynlik sake om die derde plek op die Proteas se kolfranglys sal moet uitspook.

“Ek is iemand wat vroeg in die beurt moet kolf. Reeza het goed gespeel, maar ek sal graag my vennootskap met Quinny wil hervat,” het Bavuma gesê.

Die Protea-kaptein het 410 lopies in 16 beurte vir die Proteas teen ’n gemiddeld van 27,33 geslaan, maar hy het nog net een vyftigtal gemoker.

Aiden Markram op die voorvoet. Foto: Randy Brooks/AFP.

Daarteenoor het Markram reeds vier vyftigtalle in 13 beurte geslaan, terwyl sy treftempo (147,40) ook aansienlik hoër is. Sy draaiboulwerk sal ook van hom ’n gedugte teenstander op die stowwerige baanblaaie maak.

Hendricks het op sy beurt ook goed teen Sri Lanka in die afgelope reeks vertoon en sy onoorwonne beurt van 56 het gesorg dat die Proteas die laaste T20-kragmeting met tien paaltjies beklink het.

Volgens Bavuma sal kolfwerk nie te maklik in die VAE wees nie – in die afgelope tien Indiese Premierliga-wedstryde het spanne gereeld gesukkel om meer as 140 lopies aan te teken.

“Ons sal intelligent moet kolf – dit lyk asof ’n telling van 160 genoeg kan wees. Ná die IPL-wedstryde weet ons nie in watter toestand die blaaie gaan wees nie, juis daarom is aanpasbaarheid van groot belang.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anoniem ·

Van wanneer af kies die kaptein waar hy wil kolf? Is dit nie vir die afrigter om te bepaal nie?

Dries ·

Ja bavuma,, kyk na jou gemiddeld. En jy sal besef jy hoort nie eens in die span nie.

Dirk Mostert ·

Ai, die Proteas het net op dreef gekom en ‘n reeksoorwinning oor Sri Lanka behaal SONDER Bavuma. Met Bavuma daal hul aandele.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.