Tendulkar besing Mitchell se lof

Daryl Mitchell het die wenlopies van Chris Woakes se boulwerk geslaan. Foto: Twitter.

Nieu-Seeland het gisteraand met Engeland – die gunstelingspan om die T20-Wêreldbeker te wen – in Abu Dhabi met vyf paaltjies afgereken.

En as Jimmy Neesham se warrelwindbeurt van 27 lopies weer die momentum in die Kiwi’s se guns geswaai het, dan was Daryl Mitchell se 72 van 47 aflewerings die gom wat hul beurt aanmekaar gehou het.

Die 30-jarige kolwer is die seun van die voormalige All Blacks-afrigter John Mitchell. En nodeloos om te sê is die rugbypa baie trots op sy krieketseun; hy het selfs die aksie regstreeks vanuit sy pawiljoensitplek gevolg.

“Dit was baie cool dat my pa onder die toeskouers was,” het Mitchell ná die afloop van die wedstryd gesê. “Weens die bio-borrelregulasies het ek hom nog nie baie gesien nie, maar ek sal beslis oor die telefoon met hom gesels!”

Mitchell, wat die kolfwerk saam met Martin Guptill geopen het, het die Kiwi-beurt weer saam met Devon Conway op koers gekry nadat hulle vroeg in die moeilikheid met die telling op 2/13 was.

Hulle het ’n vennootskap van 82 lopies om die derde paaltjie geniet en hoewel Mitchell aanvanklik gesukkel het, het hy later die lopiekrane oopgedraai om die welverdiende wenlopies met ’n grenshou te slaan.

Sachin Tendulkar, die legendariese Indiese kolwer, het op sosiale media gesê dat dit ’n baie goeie krieketwedstryd was, terwyl Mitchell se beurt beslis sy aandag getrek het.

Intussen meen Eoin Morgan, Engeland se krieketkaptein, dat dit nog nie die einde van sy internasionale loopbaan is nie.

Die 35-jarige kolwer sukkel deesdae met die wilgerlat en hy het vóór die aanvang van die toernooi selfs gesê dat hy bereid is om homself uit die span te laat as dit in die pad van moontlike Wêreldbeker-glorie staan.

“Ek hoop om weer terug te wees en ek weet dat ek nog baie vir die span kan bied. Ek is mal daaroor om saam met die ouens te speel en ek is trots om hul leier te wees,” het Morgan gisteraand gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

kaplyn ·

Nog `n Engelse WW span het in die stof gebyt! Dit gaan vir my moeilik wees om te kies tussen AUS en NZ as hulle in die eindstryd speel.

Snowball ·

Ai, Engeland! Soos gewoonlik die ‘gunstelinge’ en het hulle al die beker verower voor die toernooi klaar is en soos gewoonlik klink hulle in die ‘pub’ soveel beter as wat hulle op die veld kan uithaal en wys.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.