Tendulkar in sy noppies met Kohli-lose Indië

Indië se seëvierende toetskrieketspan. Foto: Twitter.

Die kitsvermaak van T20-krieket sorg vir die nodige sesslaandoepa waarna adrenalien-verslaafdes smag, terwyl die Wêreldbeker-kriekettoernooi glorie op die eendagverhoog beteken; maar wat drama en vaardighede betref, kan niks by toetskrieket kers vashou nie.

Die Indiese span het vandag vir een van die beste vertonings in hul trotse krieketgeskiedenis gesorg toe hulle Australië in die vierde en beslissende toets met drie paaltjies op die Gabba in Brisbane geklop het.

Nie net het die besoekers die reeks met 2 – 1 beklink nie, maar die Australiërs het vir die eerste keer in 32 jaar bloedneus in Brisbane gekry.

“Ná afloop van elke sessie was daar ’n nuwe held,” het ’n ingenome Sachin Tendulkar gesê.

Die Klein Meester, soos wat Tendulkar in krieketkringe bekendstaan, was veral beïndruk met Rishabh Pant se kolfbeurt – ’n onoorwonne 89 – wat die wa in die doodsnikke van die toets deur die drif vir Indië getrek het.

“Die span het vreeslose krieket gespeel en dit is een van die beste reeksoorwinnings nóg.”

Virat Kholi – wat die grootste gedeelte van die reeks weens die geboorte van sy kind misgeloop het – kon sy vreugde kwalik beteuel.

Die kolfster was trots op die karakter wat die span getoon het nadat hulle vir slegs 36 lopies in Adelaide uitgeknikker is.

“Wat ’n ongelooflike sege! Diegene wat in ons getwyfel het, sal beslis van hierdie spogvertoning kennis neem. Die span se vasberadenheid was die deurslaggewende faktor,” het Kohli op Twitter geskryf.

Michael Vaughan, oudkaptein van Engeland, het ook die heuningkwas uitgehaal om die Indiese span se lof te besing.

“Goeiste, hierdie moet een van die beste, of selfs dié beste toetsoorwinnings wees. Spelers soos Shubman Gill en Rishbah Pant is toekomstige sterre,” het Vaughan geskryf.

Australië se Pat Cummins is met sy 21 paaltjies as die speler van die reeks aangewys, terwyl Marnus Labuschagne die voorste lopiemaker is.

Hy het 426 lopies in sy agt beurte gemoker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Therese ·

Beslis ‘n skitterende, welverdiende sege en toetskrieket op sy beste!
Die Aussies moet ernstig dink oor hul manier om beseerde spelers soos Warner as onmisbaar te beskou. Gee meer belowende spelers ‘n kans, dis soveel beter vir ‘spelerdiepte’ soos Indië nou gewys het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.