Terugvegpoging soos min deur die Proteas

Vernon Philander (Facebook Vernon Philander – Cricket Shots)

Afgeval en seergekry, opgeklim en weer gery …

Soos die ou Afrikaanse rympie is dit is presies wat die Proteas die afgelope vier dae gedoen het nadat hulle die week vantevore op Lord’s die eerste keer sedert 1960 op dáárdie roemryke veld verloor het.

Daardie futlose vertoning is na vier dae se puik krieket op Trent Bridge omgekeer tot ʼn oorwinning wat van die bestes die afgelope klompie jare was toe Suid-Afrika vir Engeland met 340 lopies geklop het.

Engeland is in sy tweede beurt vir 133 uitgehaal in die soeke na 474 lopies om te wen.

So reddeloos as wat die Suid-Afrikaners op Lord’s was, só het die Engelse gesukkel op die kolfblad wat, amper soos klokslag, weer na die derde dag die kolwers laat bontstaan en die boulers laat feesvier het. Hulle is vir 133 in 44.2 beurte uitgehaal – die eerste keer sedert 2009 dat Engeland minder as 100 boulbeurte in hulle twee kolfbeurte gekolf het.

♦  Dit is ongetwyfeld die Proteas se snelaanval wat die grootste eer moet kry, maar daar moet nie van die bydraes van die kolwers Dean Elgar, Hashim Amla, Faf du Plessis en, al klink dit effens vreemd, die toetsgroentjie Heino Kuhn vergeet word nie.

En natuurlik, Keshav Maharaj het met sy linksdraaiers die tuisspan se kolwers self laat kopkrap en tot swak houe gedwing. Hy het drie paaltjies in elke beurt geneem vir ʼn wedstrydontleding van 6/63 teen 10,5 per paaltjie.

Kuhn? Ja, hy het net 34 lopies in die eerste beurt aangeteken. Ja, hy het wel aanvanklik geskrop en gekrap, maar vasgebyt en die Engelse gefrustreer tot net na ete, nadat die vroeë paaltjie van Elgar hulle laat dink het hier kom weer ʼn slagting.

Saam met Amla het hy die beurt aan die gang gekry en die vasberadenheid getoon wat na die tweede kolfbeurt op Lords noodsaaklik was.

Kuhn het sewe viere geslaan en tussen die toewyding en, veral die aanvanklike, speel en mis speel, gedoen wat ʼn aanvangskolwer moet doen: die snelaanval hard laat werk en die glans van die bal help afhaal.

♦  Maandag, met heelwat meer as ʼn dag se spel oor, het Engeland die laaste vyf van sy tweebeurtpaaltjies vir net 11 lopies verloor. Die slag was toe egter al lankal gelewer na die uitstekende boulwerk van Morné Morkel, Vernon Philander en Chris Morris.

Morkel het wel in die tweede beurt nie ʼn paaltjie geneem nie, maar soveel druk op die kolwers geplaas dat die ander twee die vrugte gepluk het – soos die speler van die wedstryd Philander toegegee het. Hy het 96 lopies in sy twee beurte geslaan en vyf paaltjies geneem.

Engeland het op 1/0 kom voortkolf in hulle tweede beurt. Teen etenstyd was die slag reeds op 79/4 gelewer. Alastair Cook het vasgebyt, maar is net voor ete uit, maar toe was die teiken van 474 reeds lankal net ʼn Engelse droom.

En dit was lekker om te sien hoe Duanne Olivier, wie se boulwerk redelik swaar gestraf is in wat net sy tweede toets was en waar hy nie by die vreemde Engelse toestande kon aanpas nie, die laaste twee paaltjies met twee balle geneem het om met trots te kan sê hy het die finale slag geslaan.

Welgedaan, Proteas. Nou vir die beslissende toets oor nege dae …

Klik op die skakel om die volledige telkaart te kry: http://www.espncricinfo.com/england-v-south-africa-2017/engine/match/1031439.html

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

CdV ·

Wat is die les wat ons hier geleer het? Keurders, hou nou asseblief op rondduiwel en maak Faf kaptein van al die krieket formate – toets, een dag en T 20. Ek smeek julle!

Adk ·

Uitstekend Faf met so n span gaan jul ver kom en die feit dat lelike taal nie betrokke was maak n wenspan Vernon bo

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.