Tiere loop rieme styf teen Zampa, Finch

Adam Zampa vier nóg ’n paaltjie. Foto: Aamir Qureshi/AFP.

Australië het vandag net hopeloos te veel skietgoed vir die stomme Tiere van Bangladesj gehad toe hulle die wedstryd binne ’n japtrap met agt paaltjies gewen het.

Adam Zampa (5/19) en Josh Hazlewood het eerstens toegesien dat Bangladesj vir slegs 73 lopies ná 15 boulbeurte uitgeknikker is.

Zampa se vertoning is die tweede beste boulvertoning ooit deur ’n Australiër in T20-krieket en hy het die laaste vyf paaltjies in die Bangladesj-beurt laat spat.

Die Proteas het die Tiere vroeër die week vir 84 uitgehaal.

Daarna het Aaron Finch (40 van 20 balle) korte mette van die lopiejaagtog gemaak en die Aussies het die wenlopies in 6,2 boulbeurte geslaan.

Die Proteas het hul wenteiken in 13,3 boulbeurte verbygesteek.

Nodeloos om te sê het Australië se kans om vir die halfeindstryd te kwalifiseer ’n massiewe hupstoot gekry en hulle is nou tweede op die punteleer met ’n netto lopietempo van +1,031.

Dit beteken dat Suid-Afrika deksels goed teen Engeland sal moet speel om hul halfeindstryd-droom lewendig te hou.

As die Proteas maar net so goed kan kolf as wat hulle boul…

Groep 1-punteleer:

  1. Engeland 8 punte; netto lopietempo van +3,183
  2. Australië 6 punte; netto lopietempo van +1,031
  3. Suid-Afrika 6 punte; netto lopietempo van +0,742
  4. Sri Lanka 2 punte; netto lopietempo van -0,590
  5. Wes-Indiese Eilande 2 punte; netto lopietempo van -1,598

Belangrike wedstryde:

  • Australië teen Windies in Abu Dhabi (Saterdag om 12:00)
  • Proteas teen Engeland in Sharjah (Saterdag om 16:00).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anoniem ·

Nou moet die Proteas vir Engeland wen en boonop hoop dat Australië teen die Windies verloor om deur te dring halfeinrondte toe. Daar moet dus 2 onverwagte uitslae kom, ek dink die spanbestuurder kan maar hulle vlug terug vir Sondag bespreek.

Dirk Mostert ·

Australie is voor die Proteas omdat hulle lopies gejaag het teen Bangladesh, terwyl die Protea-kolwers (veral Bavuma) gepoerpoer het om net die wedstryd te wen.

Kirst ·

Die Aussies haal altyd uit en wys wanneer dit saakmaak. Toe ons die eerste wedstryd verloor het teen hulle, het ek geweet ons sal nie deurdring halfeindstryd toe nie. Ek dink egter die Proteas het goed gevaar onder omstandighede. Onthou waardeur KSA is die afgelope paar jaar. Ons span is ook oor die algemeen taamlik onervare, en ons probleme met die kolf is niks nuut nie. Dit was nog nooit ons sterk punt nie.

Anoniem ·

Ongelukkig is goed onder die omstandighede nie goed genoeg nie. Die verval van ons krieket wys nou duidelik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.