Tiere suur oor skeidsregtervertoning

Marais Erasmus is een van die voorste skeidsregters ter wêreld. Foto: Marco Longari/AFP.

Bangladesj is met sy rug teen die muur in die eerste toets teen Suid-Afrika in Durban. Die besoekers benodig net 274 lopies vir ’n oorwinning, maar hulle wankel tans op 11/3 nadat Keshav Maharaj en Simon Harmer laat gistermiddag amok gemaak het.

Die besoekers is egter ontevrede met Marais Erasmus en Adrian Holdstock (twee Suid-Afrikaanse skeidsregters) se vertoning.

Shakib Al Hassan is een van die wêreld se voorste veelsydige spelers en hoewel hy die toetsreeks weens persoonlike redes misloop, het hy steeds sy misnoeë op sosiale media uitgespreek.

“Ek dink die Internasionale Krieketraad moet weer van neutrale skeidsregters begin gebruik maak omdat die Covid-situasie nou oukei in die meeste krieketspelende lande is,” het die 35-jarige speler getwiet.

Dit lyk of die Bangladesj-spelers veral oor ’n paar been‑voor‑paaltjie-beslissings ongelukkig is wat nie in hul guns getel het nie.

Moderne tegnologie beteken dat spelers ’n skeidsregter se beslissing kan bevraagteken. Maar wanneer kykweersessies wys dat die bal die paaltjies net skrams sou getref het, is die kans baie goed dat ’n kolwer nie die pad na die kleedkamer sal aanpak nie; veral as die skeidsregter se aanvanklike beslissing nie uit was nie.

“ ’n Paar van die beslissings het teen ons getel en dit is uiteindelik die verskil tussen ’n teiken van 180 lopies en 274 lopies,” het Khaled Mahmud, direkteur van Bangladesj se krieketspan, gesê.

Hy het die skeidsregtervertoning as “wispelturig” beskryf, maar bygevoeg dat die span die skeidsregters se beslissings moet aanvaar.

Tog is Erasmus een van die mees ervare skeidsregters op die wêreldverhoog en hy is onlangs as die Internasionale Krieketraad se skeidsregter van die jaar benoem.

Terselfdertyd sorg die paaltjies wat in Bangladesj se tweede beurt geval het nie vir veel ammunisie vir kerm en kla nie: Shadman Islam is in die glippe uitgevang, Mahmudul Hasan Joy is skoongeboul en Mominul Haque se b.v.p.-beslissing was ongetwyfeld die korrekte een.

  • Opsomming van telkaart:

Proteas 367/10 in 121 boulbeurte: Temba Bavuma 93, Dean Elgar 67 en Khaled Ahmed 4/92.

Bangladesj 298/10 in 115,5 boulbeurte: Mahmudul Hasan Joy 137, Simon Harmer 4/103 en Lizaad Williams 3/54.

Proteas 204/10 in 74 boulbeurte: Dean Elgar 64, Ebadot Hossain 3/40 en Mehidy Miraz 3/85.

Bangladesj 11/3 in 6 boulbeurte: Keshav Maharaj 2/7 en Simon Harmer 1/4.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Moedeloos ·

Ek betwyfel nie die skeidsregters se beslissings nie maar voel ook dat as die bal die paaljties sou getref het, maak nie saak hoe waar of wat nie, moet dit uit wees. Net soos in tennis. Daai bal kan die lyn met n haarbreete raak dan is dit in.

Kiepie ·

Moedeloos, die tegnologie in die geval van krieket is nie 100% akuraat nie en daarom die “margin of error” toegewing wat gemaak word. Anders as in tennis waar daar presies bepaal kan word waar ‘n bal grond geraak het is daar ‘n mate van onsekerheid oor “presies” hoe die bal sou trek van waar dit die beenskut tref tot by die paaltjies. In gevalle soos ‘n fyn buiterand van die kolf waar die tegnologie wel met sekerheid kan wys of die kolwer die bal geraak het of nie dra die skeidsregter se oorspronklike beslissing geen gewig nie en berus die finale besluit uitsluitlik by die TV skeidsregter op grond van wat die tegnologie vir hom bevestig.

Manie ·

Al die tegnologie sou nie nodig gewees het indien spelers eerlik is nie. Hoeveel kolwers kry ‘n fyn buiterand van die kolf by, maar bly staan totdat die skeidsregter hom uitgee.(of nie) ? Met die beroepsera in sport waar alles oor geld en wen gaan, het eerlikheid en goeie sportmangees by die agterdeur uitgewaai. Daar bestaan nie meer so iets soos ‘n “gentleman’s” game nie.

Kiepie ·

Dalk het Shakib Al Hassan ‘n punt maar dit sou nie die teiken 53 lopies gemaak het nie. Keep you eye on the ball dear sir.

JohanEtz ·

Maak voorbeelde van die klaers – soos met Rassie gedoen is?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.