Titans se wegholsege bring goeie nuus vir Proteas

Titans-oorwinningsvreugde (Foto: GB Jordaan)

Goed, dit is nou wel eerder vermaaklikheid as krieket, maar daar was Saterdagaand in die Ram Slam-eindstryd tog goeie nuus vir Suid-Afrika met die oog op aanstaande maand se toetsreeks teen Indië.

Die reeks begin op 5 Januarie op Nuweland, en dit is veral die vier paaltjies wat Chris Morris Saterdagaand in Centurion geneem en Quinton de Kock wat oplaas darem ʼn goeie beurt gespeel het, wat die aandag getrek het.

Die Titans het eenvoudig met die Dolphins gemors en die gevraagde 101 lopies in net 11,1 boulbeurte aangeteken met net drie kolwers wat uitgehaal is.

Die Dolphins kon nie eers hulle volle 20 boulbeurte kolf nie. Net Dane Vilas en Andile Phehlukwayo, albei met 21 lopies, het 20 of meer lopies aangeteken.

Dit was die Titans se derde T20-titel in drie jaar, ʼn nuwe rekord. Morris se 4/13 is ook ʼn eindstryd-rekord.

Albie Morkel, die Titans se kaptein (Foto: GB Jordaan)

Hoewel hy net 3,3 beurte geboul het, kan daar weinig twyfel wees dat Morris ten volle van sy onlangse besering herstel het. Met Dale Steyn, wat deur die Titans ruskans gegun is omdat die beperking van vier boulbeurte hom weinig sou baat en hy eerder op fiksheid konsentreer, en ʼn fikse Kagiso Rabada, is daar darem ʼn kern snelboulers slaggereed vir Indië.

Morné Morkel behoort ook reg te wees vir die reeks, hoewel hy die toetse sal binnegaan sonder genoeg krieket agter die seer blad waarvan hy aan’ t herstel is, en Vernon Philander maak ook geluide dat hy na die reeks uitsien.

Dus, hoogs waarskynlik vyf gehalte-snellers om uit te kies. Hulle sal vir Indië op die harder, vinniger kolfblaaie ʼn stywe uitdaging bied.

♦  Oor Saterdagaand: Dit was so eensydig as wat dit maar in die soort krieket kan wees. Die baie reën wat bygedra het dat die Dolphins die eindstryd gehaal het – onder meer nadat die halfeind Donderdagaand afgelas is – het aan die ander kant gesorg dat die KwaZulu-Natalse span nie veel wedstrydoefening deur die seisoen gehad het nie.

AB de Villiers – goeie vorm deur die Ram Slam-reeks.
(Foto GB Jordaan)

Nadat hulle Morné van Wyk met die telling op 13 verloor het, het Vaugn van Jaarsveld en Sarel Erwee  op onderskeidelik 25/2 en 28/3 gevolg. Op 67/7 was die wedstryd eintlik al beslis.

Die kolfbeurt van 100 almal uit het net 18,3 beurte geduur.

De Kock se 39 is van net 27 balle met ondermeer vier viere en twee sesse behaal; AB de Villiers het 27 in 13 balle (drie sesse) geslaan; en Aiden Markram, was op 18 nie uit nie.

Vir die volledige telkaart en statistiek, klik op http://www.espncricinfo.com/series/8656/scorecard/1124690

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

bollie ·

Ek hoop Philander is reg, hy is eintlik ons beste toetsbouler.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.