Titans wen die Momentum-beker!

Foto: GB Jordaan

Die Titans is as die wenners van die Momentum-reeks gekroon toe hulle vanmiddag op SuperSport Park die Dolphins met 135 lopies verrinneweer het.

Die KwaZulu-Natallers is die verdedigende kampioenspan, ná hulle verlede jaar met die silwerware weggestap het. Toe hulle vanoggend die loot gewen het en besluit om eerste te boul, het Khaya Zondo se span waarskynlik gedink die geluk is weer eens aan hulle kant.

Maar skitterende kolfwerk deur die tuisspan se toporde het gesorg dat hulle ʼn indrukwekkende 356/5 in hulle toegelate 50 boulbeurte opstapel.

Theunis de Bruyn (72 van 87 balle), Dean Elgar (58 van 42 aflewerings) en Farhaan Behardien (35* van 19 balle) het met die kolf uitgeblink, maar dit was Aiden Markram wat staande toegejuig was vir sy beurt. Die Protea-toetsopeningskolwer het 127 lopies van slegs 88 aflewerings gemoker. Sy pragbeurt het vyf vier en agt sesse ingesluit.

Markam – hoewel hy net vyf wedstryde in die reeks gespeel het – is die toernooi se voorste lopiemaker. Hy het 542 lopies teen ʼn gemiddeld van 108.40 geslaan. Sy treftempo was 132.84 lopies per 100 aflewerings.

Ottis Gibson het gesê hy wil sy Protea-span vir die Wêreldbeker volgens hul spelpeil kies, en nie hul reputasie nie. Nou ja, as dit dan die geval is, dan kan Markram maar sy tassies pak.

Keshav Maharaj verdien ook spesiale vermelding. Terwyl die Titans-kolwers sy spanmaats vir sewe, agt en nege lopies per boulbeurt geslaan het, het hy slegs 3.8 lopies per beurt in sy 10 boulbeurte afgestaan.

Die besoekers moes uit die staanspoor teen meer as sewe lopies per boulbeurt kolf vir ’n onwaarskynlike oorwinning. Dane Villas en Andile Phehlukwayo het moedig probeer, maar hulle het té gereeld paaltjies verloor om ooit ʼn bedreiging vir die Titans te wees.

Goeie boulwerk deur Dale Steyn (3/36) en Tabraiz Shamsi (2/59) het die Dolphins se kolfbeurt gekniehalter en die Titans het welverdiend met die louere op hul tuisveld weggestap toe hulle die besoekers vir 221 uitgehaal het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

jakes ·

Die Dolphins speel krieket soos wat hul superrugby span rugby speel. Is heeltyd warm en koud en eintlik maar n skande vir hul ondersteuners. Die Highveld Lions het albei hul wedstryde teen die Titans gewen terwyl al die ander spanne net vas geval het teen die Titans. Ons plaaslike krieket is maar van gemiddelde standard nes ons rugby.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.