Toe Vinnige Fanie die Aussies verrinneweer het

Fanie de Villiers in aksie teen Australië. Foto: Twitter.

In ’n onderhoud is Glenn McGrath gevra of daar iets is wat hy van sy legendariese loopbaan sou wou verander.

Die snelbouler met 563 toetspaaltjies agter sy naam het sy antwoord onmiddellik gereed gehad: die uitslag van die Sydney-toets teen Suid-Afrika in 1994.

Want toe Fanie de Villiers vir McGrath van sy eie boulwerk uitgevang het, het die Proteas ’n haas uit die hoed gepluk om die wedstryd met vyf lopies te wen.

Nou, De Villiers was nog altyd een van die kleurrykste karakters op die plaaslike kriekettoneel en hy het in slegs sy tweede toets ook sy stempel dubbel en dwars op wêreldkrieket afgedruk.

Nadat die eerste toets van die Australië-reeks weens reënweer in die wiele gery is, was die Proteas met hul rûe teen die muur in Sydney.

Die Suid-Afrikaanse kolwers is deur Shane Warne – wat met ’n boulontleding van 12/128 in die wedstryd gespog het – deurmekaar gedraai en hulle was kniediep in die moeilikheid in hul tweede beurt met die telling op 110/5.

Maar ’n goeie vennootskap van 72 lopies tussen Jonty Rhodes (76) en Dave Richardson (24) het die kastaiings effens uit die vuur gekrap, terwyl die 36 lopies wat Rhodes en Allan Donald om die tiende paaltjie bygevoeg het van onskatbare waarde was.

Die tuisspan moes 117 lopies vir ’n oorwinning aanteken en met kolwers soos Mark Taylor, Mark Waugh, David Boon en Michael Slater in hul geledere, het die lopiejaagtog na ’n blote formaliteit gelyk.

Maar De Villiers was nie van plan om sommer net te hênsop nie en hy het die bal aan die rol gesit deur van Taylor, Slater, Boon en die naguiltjie, Tim May, ontslae te raak.

Tog het die Aussies net 74 lopies op die laaste dag benodig om die wedstryd te wen; boonop was Allan Border en Waugh nog voor die paaltjies.

Donald het egter vir Border met ’n skitterende aflewering skoongeboul en toe Hansie Cronjé vir Warne uitgehardloop het, was die Proteas die gunsteling om die toets te wen.

De Villiers was altyd een van krieket se kleurvolle karakters. Foto: Twitter.

Die stertkantkolwer, Craig McDermott (29), het met ’n teenaanval vorendag gekom en sy vennootskap met Damien Martyn het gedreig om die wedstryd weer in Australië se guns te draai.

Donald het die vennootskap beëindig toe Andrew Hudson vir Martyn uitgevang het en die tuisspan het sewe lopies benodig toe McGrath stelling voor die paaltjies ingeneem het.

Die druk was egter een te veel vir McGrath en hy het ’n eenvoudige vangkans aan De Villiers gebied.

“Vinnige Fanie” het met ’n boulontleding van 10/123 in die wedstryd gespog en hy het uiteindelik in sy 18 toetse 85 paaltjies vir die Proteas geneem.

Soos wat hy agterna gesê het: Daardie Suid-Afrikaanse span het nie geweet hoe om moed op te gee nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Therese ·

Ai, waars die dae van Vinnige Fanie. Wat ‘n Yster-vegter!
Een van die beste wenne ooit!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.