Toeskouers by T20-skouspel toegelaat

Temba Bavuma. Foto: Manjunath Khan/AFP.

Met die eerste aflewering van die T20-Wêreldbeker slegs ’n week of twee weg, het die Internasionale Krieketraad (IKR) bevestig dat toeskouers by die wedstryde welkom sal wees.

Stadions in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) mag tot 70% van hul volle toeskouerkapasiteit inneem, terwyl die situasie in Oman dopgehou word nadat ’n tropiese sikloon die land getref het.

Hoewel Covid-19-regulasies steeds van toepassing is, sal dit (toeskouergewys) die grootste internasionale krieketskouspel wees sedert die wêreldwye pandemie verlede jaar amok met die sportkalender gemaak het.

Die Proteas, wat op 23 Oktober hul eerste wedstryd teen Australië in Abu Dhabi speel, het gister na die VAE vertrek.

Hoewel die spankeuses ’n paar wenkbroue laat lig het – veral omdat Janneman Malan en George Linde nie gekies is nie – het die span steeds drie agtereenvolgende mik-en-moker-reekse in die aanloop tot die internasionale toernooi gewen.

Benewens Sri Lanka en Ierland, het die Suid-Afrikaners ook met die Wes‑Indiese Eilande (die verdedigende wêreldkampioenspan) afgereken.

Temba Bavuma, kaptein, behoort wedstrydfiks te wees wanneer die Proteas vir Afghanistan in ’n oefenwedstryd op 18 Oktober aanvat. Die 31-jarige kolwer het verlede maand sy duim in ’n wedstryd teen Sri Lanka gebreek en hy het eers weer baie onlangs in die nette begin kolf.

“Volgens die mediese span is die herstelproses op koers. Dit was ’n frustrasie om op die kantlyn te wees, maar ek was steeds betrokke by die span. Ek was gereeld in gesprek met Mark Boucher (afrigter) en Keshav Maharaj (tydelike kaptein) om idees uit te ruil,” het Bavuma gesê.

Anrich Nortjé.. Foto: Ishara S. Kodikara.

Sewe spelers, onder wie Quinton de Kock, Anrich Nortjé en Aiden Markram, se Indiese Premierliga-verpligtinge beteken dat hulle reeds in die VAE is.

Veral Nortjé se vertonings laat krieketondersteuners regop sit.

Sedert die toernooi weer hervat is, het hy ses paaltjies teen ’n gemiddeld van 10,6 in die kleure van die Delhi Capitals geneem.

Hy het veral in ’n wedstryd teen die Sunrisers Hyderabad die spoednaald in die rooi gedruk. Sy eerste aflewering van die kragmeting is teen 148,2 km/h gemeet en hy het uiteindelik vyf keer vinniger as 150 km/h geboul.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.