Toets op ’n mespunt gebalanseer

Kagiso Rabada. Foto: Phill Magakoe/AFP.

Bestendigheid is die wagwoord indien jy ’n doelwit wil bereik. ’n Mens sal byvoorbeeld gereeld moet oefen om fikser te word, of daagliks aandag aan algebra skenk wanneer jy met wiskunde vóór ’n eksamen sukkel.

Eintlik is kitsoplossings maar vir min dinge beskikbaar. En boulwerk is geen uitsondering nie.

Die Protea-boulaanvallers het vanoggend hierdie les op die harde manier geleer toe Ajinkya Rahane en Cheteshwar Pujara in ’n stadium teen meer as vyf lopies per boulbeurt gekolf het.

Met elke grenshou en wilde opslagbal wat oor Kyle Verreynne se kop na die grenstou geseil het, het Indië se voorsprong gegroei; ’n kommerwekkende storie op ’n onvoorspelbare Wanderers-blad.

Gelukkig het Kagiso Rabada skielik vlamgevat om van al twee kolwers binne ’n japtrap ontslae te raak – soms is lyn-en-lengte-boulwerk baie meer intimiderend as ’n vurige aflewering wat verby ’n kolwer se keel flits.

Tog het Marco Jansen se tweestryd met Jasprit Bumrah vir lekker vermaak gesorg.

Jasprit Bumrah en Marco Jansen was in ’n vurige tweestryd gewikkel en Marais Erasmus moes tussenbeide tree. Foto: Phill Magakoe/AFP.

Bumrah het die jong Suid-Afrikaner vroeër met ’n paar aflewerings teen die lyf getref en Jansen het probeer om hom in eie munt terug te betaal.

Met die spoednaald en die humeure wat die hoogte ingeskiet het, moes Marais Erasmus (skeidsregter) tussenbeide tree.

Bumrah is weliswaar kort daarna deur die einste Jansen van Rabada se boulwerk uitgevang, maar die besoekers kon steeds ’n wenteiken van 240 op die telbord plaas.

Dit is 11 lopies meer as wat Suid-Afrika in hul eerste beurt bymekaar kon skraap.

Aiden Markram het egter vol selfvertroue weggetrek en hy het ses grenshoue in sy beurt van 31 geslaan voordat Shardul Thakur hom been voor paaltjie betrap het.

Dean Elgar en Keegan Petersen het daarna die Suid-Afrikaanse skip na ’n veiliger hawe gestuur, maar Ravichandran Ashwin het hul belowende vennootskap kortgeknip toe hy vir Petersen uitgeknikker het.

Op ’n baanblad wat vir snelboulwerk uitgeknip is, het Ashwin se draaiballe onverwags ’n bedreiging geword.

Maar in Elgar het die Proteas ’n rateltaai speler wat nie sommer sal handdoek ingooi nie.

En taaiheid, saam met veggees, bestendigheid en ’n tikkie geluk, is wat Suid-Afrika benodig om die wedstryd te wen.

Opsomming van telkaart:

  • Indië 202 in 63,1 boulbeurte: KL Rahul 50, Marco Jansen 4/31, Kagiso Rabada 3/64 en Duanne Olivier 3/64.
  • Suid-Afrika 229 in 79,4 boulbeurte: Keegan Petersen 62, Temba Bavuma 51 en Shardul Thakur 7/61.
  • Indië 266 in 60,1 boulbeurte: Ajinkya Rahane 58, Cheteshwar Pujara 53, Lungi Ngidi 3/43 en Marco Jansen 3/67.
  • Suid-Afrika 117/2: Dean Elgar 46*, Aiden Markram 31 en Ravichandran Ashwin 1/14.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Colombo ·

Mag die kniebuigende kwotaspelers nie die teiken bereik nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.