Toetskrieket: Indië klop vuisvoos Engeland

Indië het Saterdag in Dharamsala die vyfde en laaste toets binne drie dae met ʼn beurt en 64 lopies gewen en die reeks met 4-1 beklink. (Foto: Sajjad Hussain / AFP)

Bestendigheid is een van die grootste boustene van enige suksesvolle toetskrieketspan.

Dit help nie jy teken as toporde-kolwer net in elke tiende toetsbeurt ʼn honderdtal aan nie, want dan sal jou span heel waarskynlik nie genoeg welslae behaal nie.

Dit is die duur les wat Engeland op sy pas afgelope (en rampspoedige) toer in Indië geleer het.

Ja, dis nooit maklik om deur Indië te toer nie, maar om darem die soveelste keer boedel oor te gee, moet die gevaarligte laat flikker.

Dit het gevolg nadat Indië Saterdag in Dharamsala die vyfde en laaste toets binne drie dae met ʼn beurt en 64 lopies gewen het om die reeks met 4-1 te beklink.

Engeland, wat met ʼn agterstand van 259 in sy tweede beurt gaan kolf het, is vir 195 lopies  uitgeboender.

Engeland het 218 lopies in sy eerste beurt aangeteken, terwyl Indië met 477 in sy enigste kolfbeurt geantwoord het.

Was dit nie vir Joe Root se 84 lopies in Engeland se tweede beurt nie, was die slae soveel groter.

Daar sal nou voorraad op Lord’s geneem moet word. Dit was Engeland se sewende nederlaag in 12 toetse. Kan daar volgehou word met die Nieu-Seelandse afrigter Brendan McCullum se volgehoue Bazball-taktiek, waar daar ná elke bal so hard moontlik gemoker word?

Daar is niks verkeerd daarmee om positief te kolf nie, maar om jou paaltjie met ʼn onverantwoordelike hou weg te gooi, maak nie sin nie.

McCullum was in sy loopbaan enig van sy soort, hy het duisende lopies gemoker, maar elke kolwer het sy eie vaardighede wat ontwikkel moet word.

Daar was ʼn paar opflikkeringe op toer, soos die 700ste toetspaaltjie wat die veteraan Jimmy  Anderson platgetrek het en die Engelse se onwaarskynlike oorwinning in die eerste toets.

Maar die Engelse kon net drie honderdtalle (Root, Ben Duckett en Ollie Pope) en sewe vyftigtalle in tien kolfbeurte aanteken.

Stokes en Johnny Bairstow was nie naby aan hul beste nie, hoewel die top- en middelorde gewoonlik ingeplof het.

Die twee groentjie-draaibalboulers Tom Hartley en Shoaib Bashir het soms indruk gemaak, maar hulle was baie duur en het alte gereeld deurgeloop.

Hartley (22 paaltjies teen ʼn gemidddeld van 36.15) en Bashir (17 paaltjies teen 33.35) het die fort probeer hou, maar hulle het nie genoeg ondersteuning gekry nie.

Nou is die groot vraag, as McCullum nie meer die regte man as afrigter is nie, op wie gaan Engeland terugval?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.