Toetskrieket verloor twee van sy bestes

Dale Steyn in aksie. (AP Photo/Themba Hadebe)

Toetskrieket is vandeesweek armer nadat Dale Steyn en Hashim Amla hul uittrede aangekondig het. Steyn het rooibalkrieket vaarwel geroep in ’n poging om sy krieketleeftyd te verleng, terwyl Amla heeltemal uit internasionale krieket getree het.

AB de Villiers, wat ook verlede jaar internasionale krieket vaarwel geroep het, het min of meer in dieselfde tyd sy toetsbuiging as dié twee gemaak.

Die samewerking tussen De Villiers, Steyn, Amla, Jacques Kallis, Mark Boucher en Graeme Smith het van Suid-Afrika veral gedugte teenstanders in die toetsarena gemaak en klinkende reeksoorwinnings in Australië en Engeland was in dié tydperk aan die orde van die dag.

“So baie het aanvanklik in jou getwyfel, maar jou veggees, nederigheid en ongelooflike talent het van jou een van die beste spelers ter wêreld gemaak,” het De Villiers oor Amla getwiet.

Waar Steyn amper dadelik tekens van sy talent uitgestal het – dink net aan daardie aflewerings wat van Marcus Trescothick en Michael Vaughan tydens Engeland se toer in 2004/2005 ontslae geraak het – het Amla maar aanvanklik gesukkel.

Hy was veral kwesbaar teen kort aflewerings, en terugflitse kom half onwillekeurig by ʼn mens op van waar Ray Jennings met ’n raket vir Amla met tennisballe peper in ’n poging om hom van sy kortbalkwale te genees.

Hashim Amla (Foto: GB Jordaan)

Maar die einste veggees waarvan De Villiers in sy twiet praat het van Amla een van die beste kolwers op die internasionale verhoog gemaak: Hy is die eerste Suid-Afrikaner om ’n 300-tal te slaan (311* teen Engeland) en het die tweede meeste toetslopies naas Jacques Kallis geslaan.

Nadat hy lank as ’n toetskrieketspeler beskou is, het hy in 2008 en in 2009 sy buigings in pajamakrieket gemaak en sommer vinnig sy stempel afgedruk. Hy is die vinnigste speler om 2 000, 3 000, 4 000, 50 00, 6 000 en 7 000 eendaglopies aan te teken.

Daarteenoor was Steyn die skerpste pyl in Suid-Afrika se toetskoker. Wanneer Smith, De Villiers of Faf du Plessis ’n paaltjie gesoek het, het hulle dikwels die bal na hom gegooi.

En al was hy hóé bedees vroeër in die dag, sal hy van iewers ’n sopie adrienalien-opkikkermedisyne kry en die bal teen 145 km/h afstuur. Steyn se grootste wapen was nie sy spoed nie – top-kolwers is nie sóveel gepla daardeur nie – maar eerder sy vermoë om die bal teen 145 km/h te swaai.

Of dit nou gewone swaai of omgekeerde swaai is, wanneer dit begin lyk asof sy are deur sy vel wil bars was Dale Steyn so te sê onspeelbaar. Hy het een van sy 439 paaltjies elke sewe boulbeurte geneem – die beste treftempo onder boulers wat meer as 200 toetspaaltjies geneem het.

Die afgelope Wêreldbeker het dalk nie verloop soos wat dit moes nie: Amla kon slegs 203 lopies in sewe beurte aanteken, terwyl Steyn nie eens ’n enkele aflewering kon afstuur nie. Om ’n lang storie kort te maak, hulle het waarskynlik beter verdien.

Dale Steyn en Hashim Amla verdien al die mooi woorde wat oudspelers op Twitter en ander blaaie skryf: Hulle het van Suid-Afrika ’n krag in toetskrieket gemaak.

  • Amla en Steyn is albei beskikbaar vir die komende Mzansi Superliga.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Wiehan ·

Nou nie huis ‘n verlies nie. Altwee het net plek in die span gekry omdat hul “experience” gehad het. Experience hoe om nie op jou beste te wees nie.

Nico ·

Ek weet nie wat befoel word met “verloor ” nie, want beide het hulself oneer aangedoen om sowat 3 jaar te laat uit te tree en so van die glans van hul glorie tyd verloor met hul selfsugtigheid en Dale se gierigheid en selfsugtigheid hou nog aan.

Poot ·

Kom ou “Kolla”. Ek kan nie wag om jou kommentaar en stats te lees nie. Ek soek n bietjie humor vir vandag.

Buffel ·

Spaar ons dit. Krieket is bo sekere mense se vuurmaakplek. Dis nogal ‘n tegniese game.

Gemaskerde Sopbeen ·

Nou is TWEE van die bestes weg…..maar wat van die ander nege? Hulle moet ook maar oorweeg om te “gaan”….Miskien kan ons dan begin krieket speel…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.