Toetssege wink vir Proteas

Ná die fiasko van die eerste toets staan die Proteas ’n uitstekende kans om ’n gelykopuitslag af te dwing. Foto: Twitter.

“Veerkragtigheid” is nie noodwendig die eerste woord waaraan ’n mens dink om die Protea-krieketspan se vertonings op die veld sedert die 2019-Wêreldbekertoernooi in Engeland te beskryf nie.

Maar sedert Dean Elgar die kapteinskapleisels vasgevat het, is daar skielik weer ’n bietjie murg in die Suid-Afrikaners se pype.

Laat ons nie doekies omdraai nie – die Proteas was in die eerste toets weggeblaas, verrinneweer en verneder. Nou gaan hulle heel waarskynlik die tweede toets wen om ’n gelykop reeksuitslag af te dwing.

Elgar, Mark Boucher en Temba Bavuma is eintlik ’n gedugte kombinasie; ’n span beskik inderdaad oor sterk leiers wanneer hy op só ’n manier kan terugbaklei.

Want ná die vierde speldag het die Kiwi’s 94/4 op die telbord gehad. Hulle benodig nog ’n verdere 332 lopies om die toets te wen.

Die besoekers se groot helde met kolf en bal was Kyle Verreynne en Kagiso Rabada.

Verreynne, wat in Quinton de Kock se paaltjiewagterspore moet volg, het sy eerste toetshonderdtal in sy sesde rooibalkrieketwedstryd geslaan.

Die 24-jarige Kapenaar het 136 onoorwonne lopies aangeteken en hy het uitstekend saam met Suid-Afrika se stertkantkolwers vertoon.

Stewige vennootskappe saam met Wiaan Mulder en Rabada het toegesien dat die Proteas hul tweede beurt op 354/9 kon verklaar; ’n voorsprong van 426 lopies.

Rabada het 47 lopies van slegs 34 balle gemoker, waarna hy weer binne ’n japtrap van Tom Latham en Will Young ontslae geraak het.

Hy het die twee openingskolwers ook in die eerste beurt uitgehaal om sodoende die eerste Suid-Afrikaanse bouler sedert Morné Morkel in 2010 te word om al twee openingskolwers in agtereenvolgende beurte uit te knikker.

Keshav Maharaj is ook besig om sy stempel op die toets af te druk en sy draaiboulwerk sorg beslis vir ’n Kiwi-kopseer of twee.

Ja, die gevaarlike Devon Coway is nog voor die paaltjies, terwyl Colin de Grandhomme in die eerste beurt gewys het wat hy kan doen. Die Kiwi’s sal egter vir 90 boulbeurte óf moet walgooi óf die lopies jaag.

’n Moeilike taak, maar seker nie onmoontlik nie. Tog is die Proteas in die binnebaan om die wedstryd te wen.

  • Opsomming van telkaart:

Proteas 364/10 in 133 boulbeurte: Sarel Erwee 108, Aiden Markram 42 en Neil Wagner 4/102.

Nieu-Seeland 293/10 in 80 boulbeurte: Colin de Grandhomme 120*, Daryl Mitchell 60 en Kagiso Rabada 5/60.

Proteas: 354/9 in 100 boulbeurte: Kyle Verreynne 136*, Kagiso Rabada 47 en Matt Henry 2/81.

Nieu-Seeland 94/4 in 42 boulbeurte: Devon Conway 60* en Kagiso Rabada 2/17.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kobus ·

Sal maar eers wag tot laaste bal geboul is voordat ek ‘n koue Oros sal geniet. Proteas sukkel teen stertkant kolwers

Christian ·

Ek stem saam, wag tot die laaste paaltjie val voor jy jou Oros aanmaak. Maar met Maharah wat gevaarlik lyk van die een kant af kan Elgar sy vinnige boulers goed gebruik van die ander kant af. 90 boulbeurte is baie om net te “survive” veral as jou top 4 reeds uit is. EN ons sal weer na 80 boulbeurte ‘n nuwe cherry kry om hulle mee te looi. Ek reken NZ het omtrent ‘n 1 uit 30 kans om nie ter verloor nie maar dit bly tog nog ‘n kans.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.