Tom trots op Tristan se plofkrag

Tristan Stubbs op die aanval in Indië. (Foto: Indranil Mukherjee/AFP)

Tristan Stubbs se Indiese Premierliga-liggie skyn die helderste onder die Suid-Afrikaanse spelers. Hy slaan sy 378 lopies in die kleure van die Delhi Capitals teen ʼn treftempo van 190, terwyl hy reeds 26 keer die bal oor die grenstou gejaag het.

In Dinsdagaand se wedstryd teen die Lucknow Super Giants het hy weer eens met ʼn onoorwonne beurt van 57 lopies uitgeblink.

En in die pylvak van ʼn beurt is Stubbs op sy gevaarlikste – volgens die slimkoppe met die sakrekenaars slaan hy dan sy lopies teen ʼn merkwaardige treftempo van 297!

Nodeloos om te sê het verskeie oudspelers en afrigters al sy lof besing.

“Daar is nie baie spelers wat kolfbeurte op só ʼn hoë nooit kan afsluit nie. Dit maak van Tristan Stubbs ʼn baie eksklusiewe speler,” het Tom Moody gesê.

Volgens die voormalige Australiese speler lyk dit of die 23-jarige Stubbs al vir jare krieket op die groot verhoog speel.

“As ʼn mens so na sy vertonings kyk, lyk dit of hy al vir tien jaar sulke beurte speel. Hy is kalm voor die paaltjies en hy probeer om nie die bal te hard te slaan nie; tog vlieg dit myle ver deur die lug.”

ʼn Paar skitterbeurte in die SA20-toernooi het beslis Stubbs se selfvertroue ʼn hupstoot gegee.

Volgens Pravin Amre, die Capitals se assistent-afrigter, verdien die Suid-Afrikaner ʼn klop op die skouer vir sy vermoë om staande in die drukkoker te bly.

Teen die Super Giants het hy byvoorbeeld aanvanklik gesukkel om lopies aan te teken, maar hy kon nietemin ʼn vyftigtal van slegs 22 aflewerings vier.

“Hy kolf uitstekend teen draaiers en hy is honger vir sukses. Ek dink ons kan nog ʼn lang pad saam met Tristan stap,” het Amre gesê.

  • Opsomming van die telkaart:

Delhi Capitals 208/4 in 20 boulbeurte: Abishek Porel 58, Tristan Stubbs 57* en Naveen-ul-Haq 2/51.

Lucknow Super Giants 189/9 in 20 boulbeurte: Nicholas Pooran 61, Arshad Khan 58* en Ishant Sharma 3/34.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.