Twee vennootskappe red Proteas na topkolwers misluk

Temba Bavuma - reddingsvennootskap (Foto: dnaindia.com)

Temba Bavuma – reddingsvennootskap (Foto: dnaindia.com)

Die Proteas het Vrydag in Wellington op dag twee van die tweede kriekettoets teen Nieu-Seeland pragtig teruggeveg nadat hulle na die eerste sessie oënskynlik teen die planke was.

Teen uitskeityd was Suid-Afrika 81 lopies voor Nieu-Seeland met nog een paaltjie staande. Hulle totaal van 349/9 het vroeër in die dag baie onwaarskynlik gelyk maar is deur veral twee uitstekende vennootskappe moontlik gemaak.

Eers was daar die 160 lopies tussen Quinton  de Kock (91) en Temba Bavuma (89). Toe het die laaste twee kolwers, Vernon Philander (36 nun) en Morné Morkel (31 nun) Nieu-Seeland verder gefrustreer met ʼn rekord vennootskap van 47 om die tiende paaltjie teen die Kiwi’s.

♦  Die Proteas het Vrydag nog vier paaltjies voor etenstyd verloor nadat Stephen Cook en Dean Elgar Donderdag kort voor uitskeityd uitgehaal is.

Suid-Afrika het op 94/6 gewankel en op 104/6 gaan eet ­– nog 164 lopies duskant die tuisspan se eerstebeurttelling van 268 almal uit.

De Kock en Bavuma het met hulle vennootskap vergoed vir die gesukkel van die toporde waar Cook (3), Elgar (0), Hashim Amla (21), JP Duminy (14) en Faf du Plessis (22) plus die nagwag  Kagiso Rabada (9) goedkoop uitgehaal is op ʼn kolfblad wat die kolwers bevoordeel het.

De Kock, wat weer haastig gekolf het, se 91 het in 118 balle gekom en tien viere en drie sesse ingesluit. Hy het uit die staanspoor besluit om Jeetan Patel, wat hom reeds vyf keer agtereenvolgens uitgehaal het en teen wie hy klaarblyklik gesukkel het, aan te val en het dit goed reggekry.

Op die kolfblad waar Suid-Afrika se draaiers Duminy en Keshav Maharaj ses paaltjies geneem het, het Patel geen sukses gehad nie en 53 lopies afgestaan.

♦  Bavuma, na sy gesukkel voor die Nieu-Seelandse reeks toe hy in vyf beurte net 21 kon aanteken, was rotsvas en soos De Kock ongelukkig om nie sy honderdtal te kry nie.

Hy was tevrede om die ondergeskikte rol te speel terwyl De Kock die boulers gestraf het en het vir 160 balle (nege viere) gestaan om die Proteas weer op koers te help kry.

♦  Suid-Afrika se voorsprong van 81 lopies lyk gesond, maar op ʼn kolfblad waar die kolwers in albei kolfbeurte merendeels tot dusver tot hulle eie mislukking bygedra het, plaas dit die Proteas hoogstens in ʼn sterk maar nie onaanvegbare posisie nie.

Die boulers het tot dusver bitter min hulp van die kolfblad gekry, maar met nog drie dae se speeltyd oor en die weervoorspelling wat benewens ʼn paar los buie Saterdag belowend lyk, behoort hier ʼn uitslag te kom.

Klik op die skakel vir die volledige telkaart en syfers van die toets (http://www.espncricinfo.com/new-zealand-v-south-africa-2016-17/engine/match/1020043.html)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.