Tweede toets: Is dit ‘n geval van Alles Malan?

Engeland se Ben Stokes (6 Januarie 2020) (Foto: AP Photo/Halden Krog)

Daar is al baie geskryf en gepraat oor heldedade in toetskrieket.

Soos in 2008 toe Suid-Afrika die eerste toets teen Australië in Perth gewen het nadat die Proteas ʼn hoogs onwaarskynlike 414/4 behaal het met AB de Villiers (106*) en Graeme Smith 108 wat die grondslag gelê het. Die Proteas het voortgegaan om die eerste keer ’n toetsreeks in Australië te wen.

Wat van die heldhaftige twee Nieu-Seelanders, Bert Sutcliffe en Bob Blair, wat donkiejare gelede die fort teen Suid-Afrika op Ellispark (ja, Ellispark) probeer hou het? Sutcliffe is deur Neil Adcock teen die kop raakgeboul, hy is hospitaal toe en het later met ʼn natgeswete en bebloede verband voortgekolf totdat die negende paaltjie geval het. En toe stap Blair in, wie se verloofde kort vantevore in ʼn grusame treinramp in Tangiwai in Nieu-Seeland omgekom het. Hy het eers nie kans gesien om verder te speel nie, maar toe die nood druk, was hy daar. Hy en Sutcliffe het 33 lopies bymekaar geskrap vir die tiende paaltjie vir nog ʼn krieketsprokie.

Nou is dit die onbesonge Pieter Malan (63*) se beurt om geskiedenis te maak wanneer die laaste dag van die tweede toets op Nuweland tussen Suid-Afrika en Engeland beslis word.

Die Proteas moes aanvanklik 438 lopies vir ʼn oorwinning aanteken nadat Engeland sy tweede beurt op 391/8 gesluit verklaar het. Maandagaand teen uitskeityd het Suid-Afrika 126/2 gehad, nog 312  lopies kort van ʼn oorwinning met 90 boulbeurte wat afgestuur kan word. Dit nadat Dean Elgar (34) en Zubair Hamsa (18) reeds uit is.

Suid-Afrika se Quinton de Kock duik na die bal (6 Januarie 2020) (Foto: AP Photo/Halden Krog)

Malan het in sy debuuttoets sy eerste toets-vyftigtal aangeteken. Hy lyk op sy gemak, los die swak balle uit en sy temperament vir toetskrieket is uitgeknip. Hy het reeds 193 balle ontvang, maar net twee viere geslaan.

As die naguiltjie, Keshav Maharaj, na verwagting nie lank hou nie, volg Faf du Plessis, Rassie van der Dussen, Quinton de Kock en dan Dwaine-Pretorius-hulle.

Die Engelse aanvangskolwer Dom Sibley (133*) het vroeër Maandag gewys hoe dit in toetskrieket gedoen word. Hy het altesaam 497 minute (agt ure en 17 munte lank gekolf) en 311 balle ontvang.

Toetskrieket word oor vyf dae beslis. Vergeet van onnodige houespel, vergeet van kanse waag. Dis nie ʼn naelloop nie, dis ʼn marathon, ʼn skaakspel.

Dit was danksy Sibley se marathonbeurt dat Suid-Afrika se boulsyfers maar bra eina gelyk het, met net Anrich Nortjé (of Anna soos sy spanmaats hom noem) se 3/61) en Kagiso Rabada (2/69) wat tevrede kan voel. Wat kan ʼn mens oor Maharaj (1/160) se draaiboulwerk sê?

Die hoogste wenteiken wat al op Nuweland behaal is, is die 334/6 wat die Aussies in 2002 aangeteken het om die toets te beklink. Kan dit weer gebeur?

Die skaal is steeds in Engeland se guns, Die ervaring van Jimmy Anderson en Chris Broad op ʼn verwerende blad is in die Engelse se guns, behalwe as dit weer tyd vir nog ʼn krieketsprokie is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

P{iet de Jager ·

Oepsie! Moet dit nie dalk Chris se seun Stuart wees nie? Dit was goed om weer kwaliteit sport joernalistiek van Pieter te lees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.