Tweederangse uitnodigingspan verniel SA se boulers

Argieffoto

Argieffoto

Suid-Afrika se laaste oefenwedstryd voor die eerste toets teen Australië Donderdag in Perth begin, het Vrydag ten einde geloop – en daar is seker ʼn mate van kommer oor hoe die boulaanval vertoon het.

Die Proteas het weer in Adelaide gespeel maar dié keer op ʼn klubveld met ʼn kolfblad wat die kolwers bevoordeel het.

Suid-Afrika het Donderdag aan die einde van die eerste dag 489 lopies opgestapel voor hulle in die 90ste beurt uitgeboul is.

Toe die tuisspan Vrydag gaan kolf het, het die Proteas se boulers gesukkel om deur te dring. Dale Steyn en Kasigo Rabada het nie gespeel nie en die ander boulers het kans gekry om kleim af te steek vir ʼn plek in die toetsspan.

Nadat die tuisspan se eerste paaltjie eers op 57 geval het toe Johnathon Dalton uitgehardloop en Brad Davis beenvoor deur Maharaj betrap is, het die twee mees ervare kolwers van die tuisspan, die kaptein Sam Raphael (91) en die paaltjiewagter Tim Ludeman (167), die telling tot 200 geneem. Jake Winter het ook 63 bygedra in die telling van 435/8 (80.2 beurte).

Die wyse waarop die span, nie naastenby Suid-Australië se beste nie, die Proteas se boulers verniel het, moes die gevaarligte laat flikker het.

Keshav Maharaj, die linksdraaier, het met 3/59 in 17 beurte die beste gevaar. Tabraiz Shamsi het daarenteen in sy 11 boulbeurte 87 lopies sonder sukses afgestaan.

Morné Morkel het 2/67 in 14 beurte geneem teen byna vyf lopies per boulbeurt; Vernon Philander kon in 14 duur boulbeurte (72 lopies) nie ʼn paaltjie neem nie, en Kyle Abbot se 1/64 het teen 5,33 lopies per beurt in sy 12 boulbeurte afgestaan.

♦ Suid-Afrika het Donderdag gekies om eerste te kolf. Dean Elgar (117) en Faf du Plessis (102) het 179 lopies vir die vierde paaltjie aangeteken nadat daar drie vinnige paaltjies geval het. Albei het kort na hulle honderdtalle uitgetree.

Stephen Cook sukkel steeds om aan die gang te kom en is uit vir ʼn nulletjie nadat hy in die vorige wedstryd ook (twee keer) misluk het. Hashim Amla is ook vir net nege lopies uitgehaal. Rilee Rossouw kon net 22 aanteken voor hy na ʼn ondeurdagte hou in die glippe gevang is.

Quinton de Kock se goeie kolfwerk hou net eenvoudig aan. Die Proteas hoop ongetwyfeld dit duur voort in die toetse. Hy het 99 lopies van 94 balle gemoker.

Temba Bavuma het 43 aangeteken en Vernon Philander 41.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Manie ·

Die BEE deurdrenkte span moet weet hulle gaan nie n afgewaterde bou aanval hê soos in Suid-Afrika

Kiepie ·

Dit was ‘n hondmak kolfblad wat in Suid-Australië se beurt nog net makker geword het. Die Proteas het dan self amper 500 lopies aangeteken nadat Dean Elgar en Faf du Plessis albei verklaar het om hul spanmaats kans te gee om ook kolfoefening te kry. Die Proteas is dus nie “uitgeboul” soos die berig noem nie en kon dus nog baie meer lopies gekry het. Ek sal nie te bekommerd wees hieroor as ek hulle is nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.