Uiteindelik laat Sri Lanka die Proteas skarrel

Faf du Plessis moker 185 pragtige lopies (Foto abc,net,au)

Faf du Plessis moker 185 pragtige lopies (Foto abc,net,au)

Dieselfde twee spanne, dieselfde uitslag. Tóg was daar baie om oor opgewonde te raak in Dinsdag se naelbytstryd tussen Suid-Afrika en Sri Lanka op Nuweland.

Die vierde eendagwedstryd het twee ou rekords laat spat en hoewel hy dit nie heeltemal alleen gedoen het nie, was Faf du Plessis die dryfveer agter albei die prestasies.

Du Plessis het in die tweede boulbeurt stelling voor die paaltjies ingeneem nadat die Proteas besluit het om eerste te kolf en is met die eerste bal van die laaste boulbeurt eers uit.

Hy het ʼn pragbeurt gespeel en 185 lopies aangeteken, sy hoogste telling en ook sy tweede honderdtal in die reeks. Suid-Afrika het 367/5 aangeteken, die hoogste totaal wat nog op Nuweland aangeteken is. Die toerspan het 327 almal uit aangeteken en die Proteas het met 40 lopies gewen.

ʼn Uitgeputte Du Plessis kon egter nie by Gary Kirsten se SA rekord  van 188 lopies in ʼn eendagwedstryd uitkom nie.

♦  Die rekordtelling is egter vanuit die staanspoor deur die Sri Lanka gejaag. Na 10 boulbeurte het hulle reeds op 100 sonder verlies gestaan met Niroshan Dickwella en Upul Tharanga wat die Proteas se boulers onverskrokke aangeval het.

Die eerste paaltjie het eers op 139 na slegs 16 beurte geval, en die tweede op 203 na 27.2 beurte.

Op 307/4, met net meer as ses boulbeurte oor, was Sri Lanka nog in die prentjie en was daar ʼn hele aantal gespanne gesigte tussen die toeskouers.

Maar toe het Sri Lanka se kolwers weer ineengestort met ses van hulle spelers wat minder as ses lopies agter hul naam gehad het wat die beurte van Dickwella (58), Tharanga (119),  Kusal Mendis (20), Sandun Weerakkody (58) en Asela Gunaratne (38) ongedaan gemaak het.

♦  Suid-Afrika se beurt het rampspoedig begin. Hashim Amla is in die tweede beurt en met die telling op drie lopies in die glippe van Lahiru Kumara se boulwerk uitgevang.

Quinton de Kock en Du Plessis het toe na aanvanklike konsolidasie lekker vinnig gekolf en die tweede paaltjie van De Kock het in die 17de boulbeurt op 103 geval. Hy het 55 lopies in 46 balle geslaan en sy beurt het sewe viere en twee sesse ingesluit.

AB  de Villiers het daarna sy 64 lopies in 62 balle aangeteken voor hy deur Sachith Pathirana skoongeboul is(240/3).

JP Duminy (20 van 22 balle) het gekom en gegaan  en Farhaan Behardien (36 nun van 33 balle) het by Du Plessis aangesluit.

Met net vier balle van die kolfbeurt oor is ʼn uitgeputte Du Plessis op die grens van Kusan Madushanka se boulwerk gevang. Sy beurt is in 141 balle aangeteken en het 18 viere en drie sesse ingesluit.

Suid-Afrika se 367/5 is teen ʼn lopietempo van 7,34 lopies aangeteken.

♦  In  Sri Lanka se beurt het hulle kaptein en aanvangskolwer Upul Tharanga sy honderdtal van 73 balle gekry. Dit het nege viere en sewe allemintige sesse ingesluit. Mendis het saam met Tharanga die lopietempo op byna agt vir die tweede paaltjie gehou, maar die Proteas kon effens asem skep toe Tharanga uiteindelik, met die telling op 216/4, moes stap.

Eers toe het die Proteas se boulers werklik ʼn greep op die wedstryd begin kry.

Wayne Parnell (4/58 in nege beurte), Dwayne Pretorius (2/55 in agt beurte), Kagiso Rabada (2/50 in nege goeie beurte) en Imran Tahir (2/76 in sy tien beurte) het die toerspan uitgeboul.

Suid-Afrika loop nou 4-0 voor in die reeks.  Hulle het nou 13 agtereenvolgende eendagwedstryde tuis gewen wat ʼn nuwe rekord is.

Die laaste wedstryd word Vrydag in Centurion gespeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Se net ·

Behardien was 36 van 20 balle (in 33 minute), nie 33 balle nie…

Landi Slatter ·

Dagsê Se net

Dankie vir jou terugvoer. Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

Frans C ·

Beide spanne se boulers was nie van dieselfde gehalte as van hul kolwers nie.Indien Proteas se boulaanval nie drasties verbeter nie kan die span vasval vorentoe in NZ en Engeland.

JP Fourie ·

Frans C ja, laat ek dit so stel – Sri Lanka se hele span is nie op standaard nie, en moes eintlik nie eers toegelaat gewees om teen die Proteas te speel nie, en die Proteas se boul aanval was duidelik slap gewees om die spel soveel moontlik te verleng. Dit gaan vir hulle die volgende moeilike teenstander baie ver laat onderskat.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.