Van der Dussen, Amla praat oor BLM

Rassie van der Dussen. Foto: GB Jordaan.

Rassie van der Dussen, wat deur sommige kenners as die Proteas se volgende toetskaptein geoormerk word, het op Max du Preez se Twitter-boodskap gereageer.

Du Preez het gevra wat spelers soos Van der Dussen, AB de Villiers, Faf du Plessis en Quinton de Kock se siening oor die Black Lives Matter-beweging is.

Dit kom nadat meer as 30 krieketspelers asook verskeie afrigters, onder wie voormalige Protea-sterre soos Makhaya Ntini, Herschelle Gibbs, JP Duminy en Vernon Philander, ’n brief onderteken het waarin hulle onder meer vra dat Krieket Suid-Afrika rassisme in die sport moet takel, terwyl hulle ook hul steun aan Lungi Ngidi toegesê het.

“Max, ek ondersteun BLM. Ek is teen alle moorde – fisieke, karakter- en kulturele moord. Ek ondersteun gelyke geleenthede vir almal. Omdat ek BLM ondersteun, beteken dit nie dat ek geweld of Marxisme ondersteun nie; ek weier dus om deur mense geëtiketteer te word. Viva Afrika!” was Van der Dussen se sterk antwoord op sosiale media.

Intussen het een van Suid-Afrika se beste kolwers ooit – Hashim Amla – ook sy stem laat hoor.

Hashim Amla. Foto: ANA.

Die 37-jarige Amla, wat met sy beurt van 311 teen Engeland die rekord hou vir die hoogste telling deur ’n Suid-Afrikaanse kolwer in toetskrieket, het gesê dat die verbeelde meerderwaardigheidsgevoel van blankes jeens swart mense (en andersom) misleidende denke is.

“Daar is onderdrukte mense in hierdie land en reg oor die wêreld – van elke kleur. Ek staan saam met almal wat onderdruk word,” het Amla gesê.

Krieket Suid-Afrika (KSA) het vandag erken dat daar steeds diskriminasie in die sport is.

“Ons neem kennis van spelers en afrigters se klagtes oor diskriminasie en rassisme. Ons erken dat dit deel van die sport se verlede, en ongelukkig, sy hede is,” is daar in ’n verklaring geskryf.

“Ons moet die werklikheid in die gesig staar, terwyl op bestuursvlak met kreatiewe en betekenisvolle oplossings vorendag gekom moet word – meer as wat ons reeds gedoen het – om seker te maak dat dit glad nie deel van die spel se toekoms is nie.”

Volgens die verklaring het KSA weer hul ondersteuning vir die Black Lives Matter-beweging  bevestig. Terselfdertyd het hulle ook die verklaring wat deur oudspelers gemaak is – ter ondersteuning van Lungi Ngidi – verwelkom.

KSA het in die 2019‑’20 finansiële jaar amper R385 miljoen in die transformasie van die spel en die ontwikkeling van swart spelers belê.

Verder is 52 van sy 64 voltydse werknemers swart, waaronder die president (Chris Nenzani) en die voorsitter van die raad, terwyl 10 van die 12 raadslede ook swart is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

gatgogga ·

Ek sou nie eers op Max du Preez se versoek reageer het nie.

Piet ·

Wat dink Max self…toemaar ons kan met redelike sekerheid raai.

Danie ·

Dit is nou n verraaier daai een. Die aand toe hy op die program van Karin Zoid kom toe sit ek my tv af en het sommer daar en dan besluit kyk ook nie weer na haar program. Max de pimper

koos10 ·

Dankie Hashim Amla, jou antwoord is seker die beste wat ek in ‘n lang tyd gelees het. Dankie dat jy nie op die seepkas spring en saam skree nie! My hoë agting vir jou het sopas deur die dak gespring.

Piet ·

Absoluut – dis die tipe kaptein wat oor die nodige stoffasie beskik om ‘n nasie te lei. Jammer hy’t uitgetree.

MakersMark ·

Solank die “slagoffer mentaliteit” voortbestaan sal organisasies soos blm floreer.

Andre ·

Ek wil net my hoed afhaal vir die afrikaans sprekende krieket spelers wat vir dekades lank min of geen speelkans gekry het, toe die nasionale span oorheers is deur engels sprekende spelers, nie na die regering gehardloop het en aangedring het om gekies te word nie. Statistieke sal jou vertel dat 1967 se span net engels was; dat 1973 se WP span net engels was; dat van alle spelers wat eendaagse krieket vir SA gespeel het , ongeveer 27% wit afrikaans; 44% wit engels en 29% van kleur was. Elkeen kan nou sy/haar eie afleiding maak

Die Wolf ·

Van der Dussen weet waar sy botter vir die brood vandaan kom. Sal enigiets kwytraak vir nog n bietjie konfyt.

Kokerboom ·

BLM! Rerig? Kyk wie ondersteun beweging. Is die omgekeerd rassisme werklik nodig in tyd wat ons leef? Jy kan nie kla as jy met die witbrood onder arm loop.

Adam Adriaan ·

Ou Max is ook een van daardie knape wat die KGB ‘n “usefull idiot” noem. Gebruik hom nou en as sy doel gedien het raak jy van hom ontslae. Daar is ook ander items wat ook so gebruik word!!

Jakes ·

Party mense het nog n paar breinselle wat kan dink. Ek is beslis nie n aanhanger van Max du Preez en sy siening van hoe dinge in SA lyk nie. Statistiek is my maatstaf en nooit sal du Preez my anders kan oortuig nie. Wat in Amerika gebeur het is pateties en absoluut verkeerd maar hou tog asb op om die situasie in SA daarmee te vergelyk. Max hoekom praat jy nie liewer oor moorde wat feitliks uurliks in SA plaasvind nie en vertel ons asb watter ras hiervoor verantwoordelik is asb?

Die Wolf ·

Ag Jakes hy begin eensaam voel, want niemand steur hulle aan hom nie.

Mieke ·

BLM is reeds ‘n rasistiese term. Dit is duidelik dat nét hulle belangrik is. Dit behoort glad nie te bestaan want almal beteken iets in ons land! Alle lewens maak saak.

Grond ·

Rassie, Menloparkers kruip nie, selfs nie om die Proteas se toetskaptein te word nie,

Die Wolf ·

Pragtig.Hy het hom nou in die voet geskiet deur dom uitsprake te lewer. n Kaptein is n leier die span en raak nie betrokke by n gemors nie.

Kompas ·

Goed gestel Amla! Max du Preez spring nou op dieselfde “ bandwagon” as Amerika. ALM.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.