Van Hansie tot AB in dié span

Hansie Cronjé. Foto: AFP.

Wisden, die gesaghebbende krieketpublikasie, het ’n Suid-Afrikaanse eendagkrieketspan gekies wat ongetwyfeld saam met die groot honde van wêreldkrieket kan blaf.

En moenie dink ’n speler se gewildheid of sy positiewe ingesteldheid op die veld het veel van ’n invloed op die keurders se uiteindelike besluit gehad nie; al wat saak maak is sy plek op die Internasionale Krieketraad se algehele ranglys.

Van Hansie Cronjé en Allan Donald tot AB de Villiers en Imran Tahir is in die span. Nodeloos om te sê is daar ook plek vir Jacques Kallis – statisties gesproke een die beste krieketspelers nóg.

Hier is die elftal saam met die betrokke speler se loopbaanstatistieke en die hoogste plek wat hy op die IKR se algehele ranglys (hetsy as kolwer, bouler of veelsydige speler) beklee het.

Gary Kirsten (IKR-ranglys – 11de):

Kirsten het in 185 eendagwedstryde 6 798 lopies teen ’n gemiddeld van 40,95 geslaan. Hy het 13 honderdtalle in sy loopbaan aangeteken met ’n hoogste telling van 188.

Hashim Amla (IKR-ranglys – tiende):

Vreemd om te dink dat kenners aanvanklik onder die wanindruk verkeer het dat Amla slegs ’n rooibalkrieketspeler was.

Met sy 8 113 lopies en 27 honderdtalle teen ’n gemiddeld van 49,46 het hy egter elke ongelowige Thomas verkeerd bewys.

Faf du Plessis (IKR-ranglys – 41ste):

Faf du Plessis het 5 507 lopies teen ’n gemiddeld van 47,47 in eendagkrieketwedstryde gemoker. Op 37-jarige ouderdom is hy steeds goed genoeg om die Suid-Afrikaanse krieketspan te haal.

Jacques Kallis (IKR-ranglys – sewende):

Dit is geen verrassing dat Kallis ’n span haal waar statistieke die hoofkeurder is nie.

Meer as 11 500 lopies en 269 paaltjies het sy vermoë met kolf en bal onderstreep. ’n Krieketspeler met verstommende vaardighede.

AB de Villiers (IKR-ranglys – negende):

AB de Villiers (2015-Krieketwêreldbeker) (Foto: AFP Photo/Peter Parks)

De Villiers het net 31 aflewerings benodig om ’n honderdtal teen die Wes-Indiese Eilande te moker; steeds ’n wêreldrekord.

Hy het 9 427 lopies teen ’n gemiddeld van 54,17 in sy eendagkrieketloopbaan geslaan.

Hansie Cronjé (IKR-ranglys – 34):

Cronjé was ’n aggressiewe en suksesvolle krieketkaptein, terwyl hy as kolwer gereeld sy stempel teen draaiers afgedruk het.

Hy het 5 585 lopies geslaan en 114 paaltjies in sy loopbaan geneem.

Lance Klusener (IKR-ranglys – derde):

“Zoeloe” was op sy beste tydens die 1999-Wêreldbekertoernooi in Engeland waar hy gereeld die Protea-kastaiings uit die vuur gekrap het.

Hy het 3 576 lopies geslaan, terwyl hy 192 paaltjies in sy loopbaan geneem het.

Shaun Pollock (IKR-ranglys – derde):

Pollock het sommer met sy eerste eendagwedstryd teen Engeland geskitter toe hy ’n onoorwonne 66 lopies geslaan het en 4/34 geneem het.

Hy het uiteindelik 385 paaltjies teen ’n gemiddeld van 24,31 op die eendagkrieketverhoog laat spat.

Allan Donald (IKR-ranglys – 31ste):

Die “Wit Blits” was die spil waarom die Proteas se sukses in die 1990’s gedraai het.

Donald het gereeld internasionale kolwers laat bontstaan – 272 paaltjies in slegs 164 wedstryde getuig hiervan.

Imran Tahir (IKR-ranglys – 35ste):

Imran Tahir. Foto: Saeed Khan/AFP.

Tahir, wat in Pakistan gebore is, het vir Suid-Afrika geskitter.

Die bybreekbouler het uiteindelik 173 paaltjies teen ’n gemiddeld van 24,83 in 107 eendagwedstryde geneem.

Makhaya Ntini (IKR-ranglys – 35ste):

Ntini was ’n fikse speler propvol energie en hy het 265 paaltjies laat spat. Hy was veral gevaarlik teen linkshandige kolwers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Oom Kaspaas ·

Ek wil nou nie paniek saai nie, maar die keurders het ‘n belangrike figuur in daardie span vergeet … ‘n paaltjiewagter … seker maar Bouch, maar hy is mos nog onder verdenking. Die span sou uitstekend gewees het, maar sou nooit die veld so gesien het nie siende dat hulle nie verteenwoordigend is van KSA se kwota teikens nie

Christian ·

Die span het ‘n paaltjiewagter. AB was ook ‘n uitstekende paaltjiewagter

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.