Varsitykrieket-kroon kry ’n nuwe tuiste

Oorwinningsvreugde van die Pukke - Foto varsitysportssa.co.za

Oorwinningsvreugde van die Pukke – Foto varsitysportssa.co.za

Die Universiteit van Pretoria (Tuks), wat die varsitykrieketkompetisie die afgelope twee jaar oorheers het, het hulle teen ’n begeesterde NWU-Pukke vasgeloop.

Die Potchefstromers het die eerste keer die titel verower deur die span van Pretoria met vier paaltjies te klop.

Tuks wat die loot gewen en besluit het om eerste te kolf, se kolfbeurt het nooit werklik op dreef gekom nie, met paaltjies wat met gereelde reëlmaat geval het. Hulle kon net ’n beskeie 116/8 bymekaarskraap.

Die Pretorianers was duidelik onder druk en het met onverantwoordelike houe hulle eie ondergang bewerkstellig

Maar alle eer aan die Pukke. Hulle het met gedissiplineerde boulwerk en ’n vyfstervertoning in die veld, die druk op die besoekers gehou.

Dit het die tuisspan die uitdaging gestel om 117 vir ’n oorwinning aan te teken. Ondanks die Potchefstromers se kolwers wat hulself nooit regtig kon inmessel nie, het hulle tog genoeg gedoen om met die titel weg te stap.

Verkorte telkaart-

Tuks: 116/8 in 20 boulbeurte.  Jiveshan Pillay (24), Craig Kirsten (23*), Ruben Trumpelman (15*). Wihan Lubbe 3/16, Ruan Haasbroek 1/3, Julian Soutter 1/11.

NWU-Pukke: 117/6 in 18.5 boulbeurte.  Marques Ackerman (29), Wihan Lubbe (19), Edrich Lubbe (15*).  Blake Schraader 2/14, Craig Kirsten 1/16.

Kolwer van die wedstryd: Marques Ackerman (Pukke)

Bouler van die wedstryd: Wihan Lubbe (Pukke)

Speler van die wedstryd: Wihan Lubbe (Pukke)

Die NWU-Pukke en Tuks se paaie tot in die eindstryd-

Drie wedstryde is op die eerste dag van die derde Varsity-kriekettoernooi in Potchefstroom weens reën gekanselleer. Een van dié wedstryde was die tussen die Pukke en Tuks.

Van Tuks, die tweemalige kampioen, is daar dikwels hierdie week gesê dat hulle nie eens die uitspeelrondes gaan haal nie. En elke keer het hulle teruggeveg.

Hulle het in die uitspeelrondes sleg teen die Universiteit van Johannesburg (UJ) verloor en ook teen die Universiteit van die Wes-Kaap aan die agterste speen gesuig. In ’n naelbytstryd het hulle met Universiteit Stellenbosch (Maties) afgereken.

In die halfeindronde het hulle weer met die Maties afgereken.

Die tuisspan, die NWU-Pukke, het op hulle beurt onstuitbaar gelyk en spelers soos hulle kaptein Wihan Lubbe en Janneman Malan het die ander spanne se boulers verrinneweer.

Maties het in die laaste groepwedstryd gewys die Pukke is nie onoorwinlik nie, deur hulle te verslaan. Pukke het in die halfeindronde teen UJ te staan gekom.

Top presteerders die afgelope week-

Wihan Lubbe het die week die meeste lopies aangeteken. Hy het in agt kolfbeurte 294 lopies teen ’n treftempo van 150 aangeteken.

Dyllan Matthews, draaibalbouler van die Pukke, het 13 paaltjies teen ’n gemiddelde van 14,46 behaal, wat ’n beste ontleding van 3/11 ingesluit het. Niel Botha, draaibalbouler van Maties, het ook 13 paaltjies teen 15,53 elk laat kantel met ’n beste ontleding van 3/19.

Lubbe (125*), Malan (104) en die UJ se Stefan Klopper (101*) het almal honderdtalle aangeteken, met Klopper wat die mylpaal vanaf slegs 54 balle behaal het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Bossie ·

Dankie, julle maak ons SO trots! Julle verdien dit. PUKKE bo! Mag ons hierdie jaar nog hoër hoogtes bereik. Ons oë is op julle gerig. Lekker, positiewe gevoel. Sterkte vir 2017! Ons waardeer julle!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.