Vat vyf, Kagiso!

Kagiso Rabada het vyf paaltjies in Engeland se eerste beurt laat kantel. Foto: Adrian Dennis/AFP.

Kagiso Rabada se naam sal nou saam met ander Protea-sterre soos Allan Donald en Makhaya Ntini op die Lord’s-ererol verskyn.

Die snelbouler spog met ’n boulontleding van 5/52 en hy het saam met Anrich Nortjé (3/63) en Marco Jansen (2/30) toegesien dat Engeland vir 165 in hul eerste beurt uitgeboul is.

Boulers wat vyf paaltjies in ’n beurt neem se naam word op die ererol op die geskiedkundige krieketveld aangebring.

Engeland het hul beurt vanoggend op 116/6 hervat met Ollie Pope en Stuart Broad voor die paaltjies.

Rabada het eerste van Pope ontslae geraak toe een van sy aflewerings die binnerand van die jong speler se kolf getref en teen die paaltjies teruggespring het.

Broad en Jack Leach het vinnige lopies probeer slaan, maar die Engelsmanne was ná 45 boulbeurte almal weer terug in die kleedkamer.

Die Protea-kolwers sal nou op hul beste teen James Anderson en Stuart Broad moet wees. Veral die 40-jarige Anderson kan ’n gevaar wees wanneer die bal swaai.

Dean Elgar was egter in ’n veglustige bui in die aanloop tot die toets en hy sal nie sy voet van die versnelpedaal wil haal nie.

“Dit is beslis ’n uitdaging om teen hulle te speel, maar terselfdertyd maak dit my ook meer honger vir sukses. Ek is immers in ’n tweestryd gewikkel teen van die beste Engelse boulers ooit,” het die Protea-kaptein gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.