Vaughan sê Smith het ’n dom ding gedoen

Engeland se Michael Vaughan. Foto: AFP Photo/Phillip Brown.

Die voormalige Engelse krieketkaptein Michael Vaughan was een van die oudspelers wat Steve Smith se optrede in die derde toets teen Indië in Sydney gekritiseer het.

Die eksentrieke Smith – wat eers ’n amperse rieldans moet uitvoer voordat hy stelling voor die paaltjies kan inneem – is nou in die spervuur omdat hy in Indië se tweede beurt sy skermkolfvaardighede op die kolfblad uitgestal het.

Beeldmateriaal het gewys waar die Aussie, te midde van Rishabh Pant se spogbeurt om die toets vir Indië te beredder, in die kolfkampie rondskrop om sy merkie te maak.

Nodeloos om te sê, sy optrede het ’n paar wenkbroue laat lig en joernaliste wou ook weet of hy doelbewus probeer het om ’n stok in Pant se kolfwerkwiel te steek.

Maar volgens Tim Paine (Aussie-kaptein) is dit iets wat Smith gereeld gedurende ’n wedstryd doen.

“Dit was glad nie ’n doelbewuste poging om Pant se kolfkampiemerkies te verander nie. Dit is pleinweg net een van sy vele fieterjasies,” het Paine gesê.

Steve Smith. Foto: David Gray/AFP.

Smith het intussen self gesê dat die dam onder die eend uitgeruk word en dat die media sorg dat die aandag nou weg van Indië se skitterende terugvegpoging in die toets geskuif word.

“Dit is iets wat ek in wedstryde doen. Ek probeer om te visualiseer waar ons boul en hoe die kolwers dan ons boulwerk trotseer. Uit pure gewoonte maak ek dan ’n merkie in lyn met die middelpaaltjie,” het Smith gesê.

Vaughan was egter steeds skepties en oudergewoonte het hy weer ’n bietjie petrol op die mediavuur gegooi.

In sy aanvanklike Twitter-inskrywing het hy gesê dat Smith ’n baie dom ding aangevang het, maar dat hy dit nie as ’n verneukery beskou nie.

Mark Waugh – die voormalige Aussie-kolwer wat deesdae sy lyf kommentator hou – het hom egter aangevat, waarop Vaughan onmiddellik gereageer het.

“Ek het duidelik gesê dat dit dom was en nie ’n verneukery nie. Maar reëls is egter reëls. O ja, as hy dit dan nou kwansuis so gereeld doen, kom ons kyk of hy in Brisbane iets soortgelyks doen,” het Vaughan teruggekap.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Die Wolf

Wil ook maar sy een minuut faam kry.