Veertien paaltjies kantel in St. Lucia

Lungi Ngidi. Foto: Randy Brooks/AFP.

Die Windies-kaptein, Kraigg Brathwaite, wonder seker waarom hy besluit het om eerste te kolf toe hy die loot gewen het. Want ná net 40 boulbeurte was sy span almal weer terug in die kleedkamer met net 97 lopies op die telbord.

Dit was veral die Suid-Afrikaanse snelboulers wat amok onder die tuisspan se kolwers gemaak het.

Kagiso Rabada (1/24) het weer op die internasionale verhoog met dieselfde vuur en aggressie geboul as wat hy deesdae vir sy Indiese Premierliga-verpligtinge bêre, maar dit was ’n briljante Anrich Nortjé (4/35) wat die eerste twee paaltjies van die wedstryd geneem het.

Nortjé, wat onlangs as Suid-Afrika se speler van die jaar aangewys is, het aanvanklik nie met dieselfde vaart geboul as waaraan ondersteuners gewoond is nie, maar hy het gesorg dat die Dukes-bal die praatwerk doen om vir Shai Hope en Brathwaite skoon te boul.

Daarna het Lungi Ngidi (5/19) met sy akkuraatheid beïndruk en hy het met reëlmaat die buiterandjie van die Windies-kolwe getref om die laaste vyf paaltjies van hul beurt te neem.

Dean Elgar het weliswaar sy eerste kolfbeurt as Suid-Afrika se nuwe toetskaptein met ’n nulletjie gevier, maar die Proteas het teen uitskeityd 128/4 op die telbord gehad – ’n voorsprong van 31 lopies met nog ses paaltjies staande.

Rassie van der Dussen (34) en Quinton de Kock (4) sal vandag voortkolf.

Kagiso Rabada. Foto: Randy Brooks/AFP.

Wat die geknielery betref om die anti-rassismeveldtog te ondersteun het Rabada, Ngidi, Keshav Maharaj, Keegan Petersen, Van der Dussen en Kyle Verreynne die knie gebuig.

Daarteenoor het Elgar, Nortjé, Aiden Markram en Wiaan Mulder hul vuiste gelig, terwyl De Kock staande gebly het.

“Ons kom van ’n diverse land en almal is geregtig om hul eie keuse te maak. Almal is gelukkig met mekaar. Ons speel vir Suid-Afrika en dit is al wat ons as spelers wil doen,” het Ngidi gesê.

Maroela Media het gister berig dat die Suid-Afrikaanse spelers self kan besluit of hulle wil kniel of staande bly in die reeks.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anoniem ·

Welgedaan Quintin de Kock, moenie swig onder groepsdruk nie.

Frank ·

De Kock, man onder die muise. Met die vorige kniebuigery was daar ook skielike siekte in sy familie en kon hy nie die dag speel nie, gevolglik het hy nie knie gebuig nie.
Ons arme sportmense wat nou so by politiekery betrek word….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.