Veertig jaar oud en steeds gevaarlik

Engeland se James Anderson. Foto: Marty Melville/AFP.

James Anderson is die beste toetskrieketbouler ter wêreld en op 40 jaar en 207 dae is hy die oudste speler sedert Clarrie Grimmett se heldedade in 1936 om dié prestasie te vermag.

Die regshandige swaaibouler het boonop in Engeland se jongste toetsoorwinning teen Nieu-Seeland gewys dat hy nog net so gevaarlik soos altyd is.

Hy spog met ʼn wedstrydboulontleding van 7/54 in dié toets en die Nieu-Seelanders het omtrent gesukkel om hul man teen sy slim boulwerk te staan.

Ja, die spoednaald raak nog net af en toe die 140 km/h‑kerf, maar vindingrykheid is ʼn goeie plaasvervanger vir spoed en Anderson flous deesdae sy teenstanders met weldeurdagte planne.

Tog kan hy steeds ʼn Dukes-krieketbal met mening swaai en sy loopbaanboulgemiddeld is vir die eerste keer sedert 2003 laer as 26.

Eintlik kan hy die hoofrol in die opvolgprent van Brad Pitt se The Curious Case of Benjamin Button vertolk want hy laat boulwerk net beter lyk soos wat die kersies op sy verjaardagkoek meer word.

Sedert hy in 2017 sy 35ste verjaardag gevier het, het hy 202 paaltjies in 56 toetse teen ʼn gemiddeld van 20,56 laat spat.

Boonop is sy boulvennootskap met Stuart Broad nou meer as ʼn duisend paaltjies werd en Ben Stokes meen dat dié rekord nie sommer verbeter sal word nie.

“Ek kan nie eintlik insien dat die rekord ooit verbeter sal word nie – veral as ʼn mens in ag neem dat daar al minder toetskrieket gespeel word,” het Engeland se rooibalkrieketkaptein gesê.

Suid-Afrika se Dale Steyn het ook al vantevore Anderson se lof besing.

“Ek hou hom gereeld dop wanneer hy boul en dit is eintlik net belaglik. Ek kon nooit sulke groot inswaaiers boul óf die kolfkampie op so ʼn slim wyse benut nie,” het die Protea-legende gesê.

Topboulers:

  1. James Anderson (Engeland): 866 punte
  2. Ravichandran Ashwin (Indië): 864 punte
  3. Pat Cummins (Australië): 858 punte
  4. Ollie Robinson (Engeland): 820 punte
  5. Jasprit Bumrah (Indië): 795 punte
  6. Shaheen Afridi (Pakistan): 787 punte
  7. Kagiso Rabada (Suid-Afrika): 776 punte
  8. Kyle Jamieson (Nieu-Seeland): 765 punte
  9. Ravindra Jadeja (Indië): 763 punte
  10. Mitchell Starc (Australië): 735 punte

Ander Suid-Afrikaanse boulers: Anrich Nortjé (19de), Duanne Olivier (22ste), Marco Jansen (23ste), Keshav Maharaj (26ste), Lungi Ngidi (34ste) en Wiaan Mulder (66ste).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

George ·

GOAT – as a quick. Hy het dit in hom om Warnie verby te steek, veral as hul hom ook loslaat teen spanne soos Afghan, WI, Nederland ens

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.