Veglustige Stokes wéér Wisden se beste

Ben Stokes het al met ’n paar uithalervertonings vorendag gekom. Foto: Anthony Devlin/AFP.

Vir die tweede agtereenvolgende jaar is Ben Stokes as die gesaghebbende Wisden Cricketers’ Almanack se voorste krieketspeler ter wêreld aangewys.

Die veelsydige Engelse ster het 641 lopies teen ’n gemiddeld van 58,27 in sewe toetse geslaan, terwyl hy ook 18 paaltjies teen 18,73 in die 2020-kalenderjaar geneem het.

Engelse krieketliefhebbers het al vantevore gesê dat Stokes Engeland se grootste speler ooit sal word, terwyl vergelykings met die Proteas se Jacques Kallis ook getref is.

Maar dat die 29-jarige Christchurch-boorling die septer op die internasionale krieketverhoog swaai, is nie te betwyfel nie.

“Ben Stokes is die eerste Engelse speler wat meer as een keer die toekenning ontvang het. Hy het dit alles vermag te midde van sy pa, Ged, se dood,” het Wisden se redakteur, Lawrence Booth, gesê.

Ged Stokes is verlede Desember in die ouderdom van 65 jaar aan breinkanker dood en Stokes het in ’n huldeblyk gesê hy sal altyd glimlag wanneer hy aan sy pa dink.

Zak Crawley, Mohammad Rizwan, Jason Holder, Dominic Sibley en Darren Stevens is in die speler van die jaar-kategorie benoem.

Holder, kaptein van die Wes-Indiese Eilande, is geloof nadat hy ingestem het om sy span te midde van die wêreldwye Covid-19-pandemie na Engeland te lei.

Dit was die eerste toer van die Covid-era.

“Hy het ook die Windies se waardige reaksie op die Black Lives Matter-beweging gelei. Hy het die knie voor elke toets gebuig en ’n swart handskoen gedra; iets wat ’n mens baie aan die Amerikaanse naellopers Tommie Smith en John Carlos se gebaar gedurende die Olimpiese Spele van 1968 laat dink het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.