Veldwerk kelder Protea-vrouespan so amper

Mignon du Preez het 29 lopies aangeteken. Foto: Twitter.

Met Pakistan se telling op 137/8 het dit gelyk asof die Proteas se vrouekrieketspan die eerste eendagwedstryd in Durban op ’n drafstap sou wen.

Ja, Suné Luus-hulle het self net 200 lopies in hul toegelate 50 boulbeurte aangeteken, maar dit is oor die algemeen makliker vir boulers om twee stertkantkolwers uit te haal as wat dit vir hulle is om 60 lopies vir ’n oorwinning aan te  teken.

’n Uitstekende vennootskap tussen Nida Dar (59) en Diana Baig (35) het egter so byna ’n stok in die Proteas se wenwiel gesteek.

Die besoekers moes vier lopies van die wedstryd se laaste aflewering vir ’n oorwinning aanteken, maar Nadine de Klerk het koelkop gebly en die Suid-Afrikaners het die kragmeting met drie lopies gewen.

Die Proteas sal egter dringend ’n paar veldwerk-oefeninge vóór die volgende eendagwedstryd moet doen.

Die span het vyf uithardloop- en ’n spul vangkanse verbrou en soos wat die Engelsman sê: Catches win matches.

Laura Wolvaardt (40) verdien egter ’n kompliment vir haar houespel – indien iemand ’n foto of twee van haar dryfhoue geneem het, kan dit maklik in ’n kolfwerk-handleiding gepubliseer word.

Dan het Marizanne Kapp (47) ook met die kolf beïndruk, terwyl De Klerk se senuwees van staal die wedstryd vir die Proteas in die laaste boulbeurt beklink het.

Die volgende wedstryd in die reeks word Saterdag gespeel.

  • Opsomming van telkaart:

Proteas 200/9: Marizanne Kapp 47, Laura Wolvaardt 40 en Diana Baig 3/46

Pakistan 197/8: Nida Dar 59, Omaima Sohail 37 en Shabnim Ismail 3/42

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Irma ·

Ek het hierdie wedstryd gekyk en ek kan beaam dat hulle iets drasties aan hulle veldwerk moet doen, want hulle het baie maklike vangskote nie gevang nie.

Anoniem ·

Dalk sal ‘n goeie dieëtkundige waardevolle raad kan gee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.