Veldwerk kniehalter Proteas in Bristol

Heinrich Klaasen was een van die veldwerkers wat vir Jonny Bairstow misgevang het. Foto: Geoff Caddick/AFP.

As swak veldwerk ’n siekte was, sou die Wêreldgesondheidsorganisasie baie bekommerd wees ná gister se T20-wedstryd tussen Suid-Afrika en Engeland in Bristol.

Op ’n klein veld het die Protea-boulers maar onseker van hulself gelyk en die veldwerkers het nie veel gedoen om hul selfvertrouevlakke ’n hupstoot te gee nie.

Engeland se Jonny Bairstow het 90 lopies vanaf slegs 53 aflewerings gemoker en hy het saam met Moeen Ali (52 lopies vanaf 18 aflewerings) ’n warrelwind-vennootskap van 106 lopies teen meer as 18 lopies per boulbeurt geniet.

Die Suid-Afrikaners het egter vir Bairstow ’n hele paar keer misgevang.

In Rome gooi bygelowige toeriste daagliks duisende euro in die Trevi-fontein vir ’n bietjie geluk. In Bristol moes Jonny Bairstow bloot net die bal in die lug slaan en die Proteas het terstond die nodige geluk verskaf.

Tabraiz Shamsi (0/49) en Andile Phehlukwayo (1/63) het gesukkel en uit pure desperaatheid het David Miller na die jong Tristan Stubbs gedraai in ’n poging om die momentum ’n bietjie te draai.

Nóg ’n verbroude vangskoot en ’n paar grenshoue later het dié kortstondige eksperiment ook lelik skeefgeloop.

Maar, vir elke Shamsi en Phehlukwayo is daar ’n Lungi Ngidi. Die snelbouler het slim geboul om met ’n boulontleding van 5/39 te spog.

Wanneer jy 235 vir ’n onwaarskynlike oorwinning moet aanteken, is ’n goeie begin van kardinale belang.

En die Proteas het glad nie goed begin nie.

Quinton de Kock het ’n bal reguit na Dawid Malan in die dekveld geslaan, terwyl Rilee Rossouw sy Protea-terugkeer met ’n veldwerkblaps of twee, ’n goeie grenshou en ’n onnodige mokerhou gevier het.

Binne ’n oogwink het die Suid-Afrikaners met hul telling op 7/2 gewankel voordat Reeza Hendricks (57) probeer het om ’n reddingspoging van stapel te stuur.

Hy het nietemin sy paaltjie in die tiende boulbeurt verloor en volgens beroepswedders was die Proteas se wenkanse toe minder as 1%.

Die 21-jarige Stubbs het egter ander planne gehad en hy het met ’n ongelooflike beurt vorendag gekom.

In sy eerste internasionale kolfbeurt het hy 72 lopies vanaf slegs 28 aflewerings gemoker en hy het die Engelse op die agtervoet met agt groot sesse geplaas.

Volgens die Britse legende was sir Tristan een van koning Arthur se ridders en ’n mens het onwillekeurig gedink dat Stubbs inderdaad die held kan wees wat die Proteas benodig, maar nie noodwendig in Bristol verdien het nie.

Sy heldhaftige kolfbeurt het egter tot ’n einde gekom toe Jason Roy hom van Richard Gleeson se boulwerk uitgevang het.

Die tweede wedstryd word vanaand in Cardiff beslis. Die wedstryd begin om 19:30 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

  • Opsomming van telkaart:

Engeland 234/6 in 20 boulbeurte: Jonny Bairstow 90, Moeen Ali 52 en Lungi Ngidi 5/39.

Suid-Afrika 193/8 in 20 boulbeurte: Tristan Stubbs 72, Reeza Hendricks 57 en Richard Gleeson 3/51.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Manie ·

Dit was ‘n dom spankeuse. Om 2 draaiboulers en 2 medium snelboulers op ‘n klein veld te kies is fataal. Om dan nog boonop swak veldwerk te doen, is selfmoord.

George ·

Wanneer gaan julle leer Rilee is nie opgewasse vir internationale krieket nie, net soos Aiden wat nie naby n toets span moet kom nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.