Verenigde Arabiese Emirate staan later reg vir IPL

Die Indiese Premierliga. Foto: Twitter.

Die res van die Indiese Premierliga (IPL) sal later vanjaar in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) afgehandel word.

Vanjaar se toernooi sou van 29 Maart tot 24 Mei plaasgevind het, maar is vroeër vandeesmaand skielik opgeskort te midde van die Covid-19-pandemie.

Indië se nasionale krieketraad het Saterdag gesê die IPL sal nou in September en Oktober in die VAE Emirate afgehandel word.

Die raad het ook gesê hy gaan die wêreldwye beheerliggaam vir meer tyd vra om te besluit of die Twintig20 Wêreldbeker-toernooi in Oktober en November in Indië gehou moet word.

Maroela Media het vroeër berig die IPL is op 4 Mei opgeskort nadat sommige spelers positief vir die koronavirus getoets het.

Die raad het sedertdien met die Internasionale Krieketraad en ander lande onderhandel vir datums waarop die oorblywende wedstryde kan plaasvind.

Volgens die Indiese krieketraad was dit ’n eenparige besluit tydens ’n spesiale algemene vergadering dat die oorblywende wedstryde in die VAE gehou sal word, met inagneming van die moesonseisoen in Indië in September en Oktober.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.