Verreynne en kie is gekies; gee hulle nou speelkans

Foto: Rodger Bosch/AFP.

Die Temba Bavuma-kapteinskapera begin amptelik met die witbalkrieketreekse teen Pakistan. Die 30-jarige kolwer sal in die eendagwedstryde op ervare spelers soos Quinton de Kock en Kagiso Rabada kan staatmaak.

De Kock-hulle sal egter weens Indiese Premierliga-verpligtinge die T20-reeks teen die besoekers misloop – ’n stand van sake wat ander spelers die geleentheid bied om hul kleim op die internasionale verhoog af te steek.

Opkomende sterre soos Kyle Verreynne, Sisanda Magala en Migael Pretorius vertoon sterk op die plaaslike kriekettoneel, tog kry hulle min kans op die internasionale verhoog.

Verreynne het weliswaar drie eendagwedstryde teen Australië gespeel en hoewel hy vir die Proteas se onlangse reekse gekies is, moes hy die aksie van langs die veld dophou.

Die jong paaltjiewagter is tans aan die brand in die plaaslike meerdaagse reeks waar hy reeds 680 lopies teen ’n gemiddeld van 97,14 geslaan het.

Dan is Magala een van die beste T20-boulers in die land – hy het vroeër 5/20 in ’n mik-en-mokerwedstryd teen die Knights geneem en hy beïndruk gereeld met sy ekonomiese boulwerk.

Dit is spelers wat graag vir die Proteas wil speel; gee hulle nou net die kans.

Die aksie begin op 2 April in Johannesburg.

  • Proteas se eendaggroep: Temba Bavuma (kaptein), Quinton de Kock (paaltjiewagter), Beuran Hendricks, Heinrich Klaasen, Janneman Malan, Keshav Maharaj, Aiden Markram, David Miller, Lungi Ngidi, Anrich Nortjé, Andile Phehlukwayo, Kagiso Rabada, Tabraiz Shamsi, Jon-Jon Smuts, Rassie van der Dussen, Junior Dala, Lutho Sipamla, Wiaan Mulder, Sisanda Magala, Kyle Verreynne, Daryn Dupavillon en Lizaad Williams.

 

  • Proteas se T20-groep: Temba Bavuma (kaptein), Bjorn Fortuin, Beuran Hendricks, Reeza Hendricks, Heinrich Klaasen, George Linde, Rassie van der Dussen, Janneman Malan, Sisanda Magala, Dwaine Pretorius, Tabraiz Shamsi, Lutho Sipamla, Kyle Verreynne, Pite van Biljon, Migael Pretorius, Lizaad Williams en Wihan Lubbe.

 

  • Suid-Afrikaners wat in IPL-aksie sal wees: Quinton de Kock, Faf du Plessis, Kagiso Rabada, David Miller, Lungi Ngidi, Anrich Nortjé, Chris Morris en AB de Villiers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.