Verreynne: Kan die Cobras-held ’n Protea-superheld word?

Kyle Verreynne het 216 teen die Warriors geslaan. Foto: Twitter.

Skoolkinders lees in een van hul Afrikaans-storieboeke dat superhelde net saans vlieg. Maar Kyle Verreynne is ’n klinkklare bewys daarvan dat superhelde in sonlig ook ’n slag kan slaan.

Die 23-jarige oudleerder van Wynberg Boys’ High het so pas ’n onoorwonne 216 teen die Warriors in Krieket Suid-Afrika se meerdaagse reeks aangeteken.

Ja, daar word gemor dat plaaslike krieket se boulaanval nie meer heeltemal op standaard is nie, maar die Warriors het Anrich Nortjé en Marco Jansen in hul arsenaal.

Verreynne het egter 27 grenshoue (waaronder vyf sesse) in sy beurt gemoker om te sorg dat die Cobras hul eerste beurt op 513/6 kon verklaar.

In 67 eersterangse beurte het die rooikop reeds 3 158 lopies teen ’n spoggemiddeld van meer as 55 gemoker.

Hy is al ’n paar keer by die Protea-groep ingesluit, maar het nie speelkans gekry nie en moes noodgedwonge die aksie van langs die veld dophou.

Foto: Rodger Bosch/AFP.

In die drie eendagwedstryde waarin hy wel speelkans gekry het – almal teen Australië – het hy 101 lopies teen ’n gemiddeld van 33,66 en ’n treftempo van 84,16 gemoker.

Benewens sy kolftalent is hy ook ’n kranige paaltjiewagter wat ongetwyfeld die juk van Quinton de Kock se skouers kan afhaal.

De Kock het juis ná die Proteas se rampspoedige toer van Pakistan op die aandrang van medici ’n kort blaaskans geneem.

Hy is ook onlangs van sy permanente kapteinskap op die witbalkrieketverhoog gestroop, terwyl Dean Elgar as die toetskaptein vir die volgende twee jaar aangewys is.

Dit sal verregaande wees om De Kock uit te laat – hy is verreweg een van die Proteas se talentvolste kolwers – maar ’n kolflys wat Kyle Verreynne en Quinton de Kock insluit, sal ongetwyfeld vir lekker leesstof sorg.

  • Verreynne se vertoning in die plaaslike reeks:

In sewe beurte het hy reeds 571 lopies teen ’n gemiddeld van 95,16 gemoker. Daarbenewens is hy ook die naasvoorste paaltjiewagter in die reeks en het al 12 kolwers uitgevang.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.