Vervang Bangladesj maar met Sri Lanka

Graeme-Pollock, een van SA se heel grootstes wat teen die ‘rebellespanne’ gespeel het. (Foto Lord’s)

Ek wonder of ou Suid-Afrikaanse Krieketunie destyds die boete ontvang het wat jare gelede aan die aanvangskolwer Lawrence Seeff opgelê is.

Seeff het ʼn onvleiende opmerking oor die tweede vierdaagse wedstryd tussen Suid-Afrika en die rebellespan van Sri Lanka gemaak.

Toe ek Sondagoggend na die telkaart van Saterdag se spel op die tweede dag van die tweede kriekettoets tussen Suid-Afrika en Bangladesj in Bloemfontein kyk, het ek aan Seeff teruggedink.

Suid-Afrka het destyds van die beste spelers ter wêreld gehad, soos ondermeer Barry Richards, Jimmy Cook, Peter Kirsten, Graeme Pollock, Kenny McEwan, Clive Rice, Garth le Roux, Mike Procter en Vincent van der Bijl. Maar hulle is daarvan weerhou om toetskrieket te speel en moes op aalmoese, soos rebelletoere deur Engeland, Sri Lanka, die Wes-Indiese Eilande en Australië, staat maak.

Die Arosa Sri Lanka-toerspan (daar was darem ʼn paar toetsspelers, hoewel die amptelike span in Zimbabwe getoer het) is in groot afwagting aan die einde van 1982 na Suid-Afrika gelok.

Maar net soos Bangladesj nou was hulle nie opgewasse nie. Die kolwers het óók nie die nodige vaardighede gehad nie en het hulle het teen die snel- en naatboulwerk van Le Roux, Stephen Jefferies, Van der Bijl en Rice kleigetrap.

Seeff het sy buiging in die tweede vierdagwedstryd op Nuweland teen die toerspan gemaak. Die toerspan het 282 lopies in sy eerste beurt behaal waarna Suid-Afrka sy beurt op 663/6  gesluit verklaar het. Seeff het 188 lopies aangeteken,  Cook 112 en Pollock 197.

Ná die dag spel is Seeff oor sy kolfbeurt uitgevra en heel eerlik het hy geantwoord: “Dis nie die regte ding nie (it’s not the real thing).”

Die Krieketunie was woedend en het Seeff voor ʼn tugkomitee onder die voorsitterskap van die legendariese kommentator Charles Fortune gedaag.

“Is jy nie dalk verkeerd aangehaal nie?” is daar aan Seeff gevra.

“Nee … dit ís nie die ware Jakob nie” – en toe word sy boete sommer verdubbel.

♦  Die toerspan is in die twee vierdagwedstryde onderskeidelik met ʼn beurt en 24 lopies en ʼn beurt en 100 lopies geklop. Hulle is deur Natal met ʼn beurt en 95 lopies en deur Transvaal met ʼn beurt en 40 lopies vermorsel.

Maar 14 jaar hierna het Sri Lanka die Wêreldbekertoernooi gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.