Video: AB se merkwaardige ses

AB de Villiers het ’n reuseses met net een hand geslaan. Foto: Cricinfo.

“Kyk ma, geen hande,” het baie kleuters al vir hul ouers gesê terwyl hulle spontaan op hul fietse rondjaag. Kort daarna moet die einste ouer waarskynlik hul wonde met Dettol ontsmet.

AB de Villiers het gisteraand waarskynlik ook aan sy kinderdae teruggedink toe hy ’n merkwaardige ses in ’n IPL-wedstryd geslaan het.

Maar waar ander kinders hul hande van hul fietse se stuurstange afhaal – net om later hard met die grond kennis te maak – het De Villiers met net een hand op sy MRF-kolf ’n monsterses van Mohammed Shami se boulwerk geslaan.

Shami het in die 19de boulbeurt ’n streepbal probeer boul – ’n aflewering wat Kagiso Rabada gereeld regkry – om De Villiers te stuit. Die Suid-Afrikaner het pas juis twee agtereenvolgende sesse van sy boulwerk geslaan.

Die bal het egter uit Shami se hand gegly en hy het teen 140 km/h ’n volaflewering afgestuur wat reguit op De Villiers afgepyl het.

Die Royal Challengers Bangalore-kolwer het egter sy oë toegeknyp, vir die bal gekoes (natuurlik), sy een hand van die kolf se handvatsel afgehaal en die bal vir ’n reuseses geslaan.

Waar ander kolwers waarskynlik op regby uitgevang sou gewees het, het De Villiers die bal 97 m ver tot op die stadion se dak geslaan.

’n Merkwaardige hou deur ’n merkwaardige speler.

De Villiers se onoorwonne 82 van slegs 44 aflewerings het die weg gebaan vir RCB se 202/4 in hul toegelate 20 boulbeurte. Die Kings XI Punjab is daarna tot 185/7 beperk.

  • De Villiers is tans die vyfde voorste lopiemaker in vanjaar se IPL. In 10 kolfbeurte het hy 414 lopies teen ’n treftempo van 158.01 geslaan. Sy 25 sesse is ook die derde meeste in die reeks – naas Andre Russel (41) en Chris Gayle (32).
  • Intussen berig cricket.com.au dat De Villiers moontlik by Australië se Big Bash League betrokke gaan raak. Hy gaan reeds ná die IPL vir Middlesex in Engeland speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ruiklont ·

Wat ‘n brijante speler, een van die bestes ooit , ‘n volwaardige speler

PR ·

As ons hom maar net kon ompraat om nog een keer wereldbeker toe te gaan, maar sy beginsels is ongelukkig te sterk om sy besluit te verander.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.