Video: Aussies se Labuschagne verstaan nog so ʼn titseltjie Afrikaans

Marnus Labuschagne, die Australiese krieketspeler, keer die bal betyds tydens die wedstryd teen Pakistan in Adelaide. (Foto: James Elsby/AP)

Hy was dalk net tien jaar oud toe hy saam met sy ouers na Australië geëmigreer het, maar Marnus Labuschagne is tans saam met André Esterhuizen en Tyrone Green een van Klerksdorp se blinkste uitvoerprodukte.

Die kolwer wat die meeste toetslopies in 2019 geslaan het, speel in die komende eendagreeks teen die Proteas vir die eerste keer sedert hy sy buiging vir Australië gemaak het in sy geboorteland.

Die 25-jarige het wêreldkrieket se eerste harsingskudding-plaasvervanger geword toe hy verlede jaar Steve Smith se skoene in die tweede toets in die Reeks om die As volgestaan het.

In 14 toetse het hy 1 459 lopies teen ’n gemiddeld van 63 geslaan, terwyl hy onlangs sy eendagdebuut teen Indië weg van die huis gemaak het.

Tellings van 46 en 54 in die drukkoker-atmosfeer van Indië is beslis nie te versmaai nie. En soos wat die lopies vloei, rol die komplimente in.

“Ek het gesien toe Jofra Archer vir Marnus teen die helm raakgeboul het en die manier waarop hy daarna teruggeveg het, spreek boekdele van hom. Hy is werklik ’n spesiale speler,” het die Indiese kolflegende Sachin Tendulkar gesê.

“Sy voetwerk is baie presies en dit is as gevolg van sy positiewe ingesteldheid jeens kolfwerk. As jy nie positief is nie, beweeg jou voete nie lekker nie. Dit het vir my gewys dat sy kop baie sterk is.”

Nou sien Labuschagne uit om voor sy Suid-Afrikaanse familie te speel.

“Ek het nog nooit top-vlakkrieket in Suid-Afrika gespeel nie en ek is opgewonde om voor my familie hier te speel. Dit was lekker om ’n paar dae saam met hulle deur te bring,” het Labuschagne gesê.

En kan hy nog Afrikaans praat?

“Ek was in gr. 1, 2 en 3 in ’n Afrikaanse skool in Potchefstroom; dus het ek nog so ’n bietjie Afrikaanse kennis.”

  • Die aksie begin vandag om 13:00 in die Paarl. Kagiso Rabada sal die res van die reeks weens ’n liesbesering misloop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johan Venter ·

Dis darem wonderlik dat Afrikaners in die tye so oorsee uitblink.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.