Video: Mohammed se vyf dekades van roomys, Nuweland, grenshoue en drieë

Mohammed Cassiem verkoop al vir 51 jaar roomys op Nuweland. Foto: Verskaf.

Sy roomys is al vir 51 jaar so deel van Nuweland se rugby- en krieketerfenis as Carel du Plessis se seepgladde voetwerk en Meyrick Pringle se wegswaaiers; terwyl sy pittige sêgoed dié ikoniese stadions net meer kleurvol maak.

Die 64-jarige Mohammed Cassiem verkwansel sy roomys sedert ’n All Black-toer in die 1970’s. Deur die jare het hy al talle rugbylegendes gesien kom en gaan, maar dit is op die krieketveld waar sy Cornetto’s net soveel beter smaak.

As ’n youngster – soos hy sê – het hy destyds ’n wedstryd bygewoon en ’n onbekende man het hom vir R10 gevra.

“Ek het aanvanklik gedink hy wil gaan sigarette koop, maar hy het my aan die hand gevat en vir my ’n roomyswaentjie gegee. Meneer, alles het met daardie R10’tjie gestart. Met dit het hy vir my die grootste rykdom in die wêreld gegee.”

Want nie net kon hy al sy kinders deur universiteit kry nie – en daar is onderwysers, arbeidsregsmanne en stadsraadsamptenare in die Cassiem-gesinsboom – maar hy het ook van die land se beste kolwers en boulers in Tafelberg se skaduwee sien speel.

Spelers soos Eddie Barlow, Clive Rice, Garth le Roux, Graeme Pollock en die Kirsten-broers het almal so tussendeur Mohammed se roomyse amok onder hul teenstanders gesaai.

Onder die meer moderne spelers is sterre soos JP Duminy en Morné Morkel “almal lieflike manne”. Morkel het selfs vir hom sy baadjie gegee, terwyl hy gereeld saam die spelers vir foto’s moet poseer.

“Meneer, as ek by die huis sit, dan is die wêreld vir my vervelig. Maar jinne, as ek op Nuweland is… Kyk, ek en my vroutjie is al vir 45 jaar getroud. Sy is ’n lieflike mens, maar daar is kere waar ons lekker baklei. Tog los ek al daai fights by die huis, want op Nuweland is ek ’n ander mens.”

Hy leef vir toetswedstryde op Nuweland. Foto: www.newlandscricket.com.

Voor hy enige iets anders op ’n wedstryddag doen, groet hy eers al sy klante – hulle is immers die belangrikste. Soms is sy sêgoed effens gewaagd, maar die mense is mal oor sy kwinkslae.

“Nadat ek hulle gegroet het, sê ek vir hulle hier is ’n sucker to make your boyfriend wakker; of ’n wafer to make him hold you stywer .”

“Meneer, ’n vrou het my een keer R50 gegee om my af te neem; sy wou die foto stuur vir haar dogter in Amerika. My gesig pryk dus iewers daar in Amerika, maar ek sal die Kaap vir niks in hierdie wêreld verruil nie. Die Bolandse boere sê gereeld dat ek een van die grootste jintelmanne in die Kaap is.”

Hy was al by verskeie konserte – soos wat die foto van hom saam met Lionel Richie in sy huis getuig, maar tog geniet hy die sport soveel meer.

En as die toeskouers dalk te veel Castle Lager onder die eikebome drink, moet jy nie aanstoot neem as hulle effens aggressief voorkom nie. O nee, jy is jou gewone vriendelike self, want die “customer is always right”.

“Ek word Maartmaand 65 jaar oud, maar ek sal nie sommer aftree – die mense gaan my te veel mis.”

En om eerlik te wees hy gaan die mense net so baie mis. Want Nuweland is Mohammed Cassiem se “liewe”; hy is lief vir die stadion en sy mense. En hulle is lief vir hom.

“Mense kan my op- en afvlieg na SuperSportpark of die Wanderers en ek sal vir hulle daar wys hoe om roomys te verkoop.”

• SuperSport het onlangs ’n video van Mohammed en sy wedstrydavonture gemaak. Die video word met hul vergunning gepubliseer:

Mohammed Cassiem – Newlands Legend

Mohammed Cassiem has been working at Newlands for an incredible 51 years, selling ice creams and goodies to the fans ????☀️He maintains that the customer is his number one asset – check out his incredible story

Posted by Newlands Cricket Ground on Saturday, January 5, 2019

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.